Psalms 66
1 Almal op aarde, juig opgewonde! Maak God se Naam groot!
2 Sing liedere om Hom te eer! Vertel hoe groot Hy is! Hy verdien dit.
3 Sê vir God: Wat U doen, is te groot om in mensewoorde beskryf te word. U is baie sterk. U vyande lê teen die grond voor u voete.
4 U is so groot dat alle mense laag voor U buig. U is so sterk dat mense wat U nie liefhet nie, ook op hulle knieë na U toe moet kruip. Almal op aarde moet U aanbid. Hulle moet liedere sing om U te eer. Hulle moet liedere sing om u Naam groot te maak.
5 Kom kyk na wat die Here gedoen het. Kom luister na wat Hy vir mense gedoen het.
6 Die see het Hy in droë grond verander. Hy het Israel kurkdroog deur die Rietsee en die Jordaan laat stap. Sy kinders was baie bly hieroor.
7 So sterk is die Here dat Hy altyd in beheer van sake is. Hy weet wat almal op aarde doen. Hy hou sy oog op almal. Mense moenie dink hulle kan teen die Here in opstand kom nie.
8 Kom, loof ons God, alle volke! Sing kliphard sodat julle lofliedere oral kan weerklink.
9 Hy gee aan ons lewe. Hy sorg dat niks ons onderkry nie.
10 God, U het mooi gekyk of ons alles doen wat U sê. U wil dat ons ophou om verkeerde dinge te doen. Daarom het U ons skoon gewas.
11 Ons was vasgevang. U het ’n swaar las op ons skouers gesit.
12 Mense het bo-oor ons geloop. Ons moes deur moeilike krisisse worstel. Dit het gevoel of ons enige tyd kon doodgaan. Maar U het ons met u goedheid deurgehelp. Hierna het U ons oorlaai met goeie dinge.
13 Ek sal vir U kom dankie sê vir alles wat U vir my gedoen het. Ek sal vir U doen wat ek belowe het.
14 Die beloftes wat ek in my nood aan U gemaak het, sal ek nakom.
15 Ek sal die heel beste wat ek het, vir U gee. Die allerbeste wat ek het, sal ek na U toe bring.
16 Julle wat God dien, kom luister na wat ek wil sê! Ek wil vertel wat Hy alles in my lewe gedoen het.
17 Ek het nog maar net die Here gevra om my te help toe ek in die moeilikheid was. Toe het ek al klaar ’n loflied begin sing.
18 Daar was nie verkeerde dinge in my hart nie. Anders sou die Here nie geluister het nie.
19 God het my gehelp. Skaars het ek Hom om hulp gevra, toe help Hy my.
20 God moet geprys word. Hy het my nie geïgnoreer nie. Hy was getrou aan my.