Psalms 59
1 ***
2 Red my van almal wat niks vir my omgee nie, my God! Bewaar my teen mense wat met my baklei!
3 Red my van hulle wat doen wat verkeerd is in u oë! Verlos my van mense wat my wil doodmaak.
4 Help my teen mense wat lief is vir geweld, wat ’n hinderlaag opgestel het om my dood te maak. Hulle wil my aanval. Maar ek is onskuldig. Ek het nie verkeerd gedoen nie.
5 Ek het niks verkeerds gedoen nie. Tog maak hulle dit vir my moeilik. Hulle kan nie vinnig genoeg op my afstorm nie. Kom kyk wat hulle doen, Here. Help my!
6 Here, U is nog altyd die sterkste. U is die God van Israel, die groot Bevelvoerder. Gryp in! Moenie goed wees vir daardie spul wat verkeerde dinge doen nie. Jy kan nie op hulle vertrou nie. Moenie aan hulle genade betoon nie.
7 Daardie slegte mense kom keer op keer terug om my seer te maak. Dan lawaai hulle soos ’n klomp honde. Hulle loop rond om te kyk waar hulle kan kwaad doen.
8 Hulle geskinder maak ander mense baie seer. Hulle tonge is soos skerp messe wat mense stukkend steek. Hulle dink dat niemand sal hoor wat hulle sê nie.
9 Here, U lag hulle uit. U maak ’n grap van almal wat U nie dien nie.
10 U gee my baie moed. Daarom vertrou ek op U. U maak my sterk, God, U pas my veilig op. Ek skuil by U.
11 Daarom help U my, want U bly getrou aan my. U sorg dat ek staande bly teen daardie spul wat niks van my hou nie. Ek sal op hulle neerkyk.
12 Moenie daardie slegte spul te gou doodmaak nie, Here! U kinders moet die skurke nie so gou vergeet nie. Laat u kinders sien watter slegte dinge hulle doen. Straf hulle op so ’n manier dat u kinders dit kan raaksien. Laat hulle sleg daarvan afkom, Here. Beskerm ons teen hulle.
13 Met hulle gepraat doen hulle baie skade. Hulle dink hulle is belangriker as ander mense. Laat hulle neerslaan. Hulle lieg en praat lelik.
14 Verwoes hulle terwyl U kwaad is, Here! Laat hulle van die aardbol af verdwyn. Laat hulle besef dat U oor u kinders heers. U is die Here oor alles.
15 Daardie slegte mense kom keer op keer terug om my seer te maak. Dan lawaai hulle soos ’n klomp honde. Hulle loop oral rond.
16 Hulle loop rond om te kyk waar hulle kan kwaad doen. Hulle soek oral moeilikheid. Hulle hou aan totdat almal later van hulle weet.
17 Maar ek sal U prys, Here. Elke oggend as ek wakker word, is ek so bly dat ek juig. Want U bly getrou aan my. U het my opgepas toe ek in die nood was. U maak my sterk.
18 Ek sal lofliedere sing om U te eer. God, U is vir my baie goed. U maak my sterk. En ek kruip by U weg. U bly getrou aan my.