Psalms 58
1 ***
2 God het vir al die magtige mense gevra: Neem julle die regte besluite? Is julle regverdig as julle in die sake tussen mense oordeel?
3 Nee, want julle is sleg. Oral waar julle kom, baklei julle. Julle ken net die taal van geweld.
4 Hulle is van kleins af al op die verkeerde pad. Van jongs af praat hulle nie die waarheid nie.
5 Hulle is baie gevaarlik. Soos slange wat pik, doen hulle dinge om mense seer te maak. Hulle luister na niemand nie.
6 Hulle kan ook niks hoor nie. Daarom luister hulle nie na goeie raad nie.
7 God, keer tog dat daardie slegte mense kwaad doen! Keer dat hulle soos jong leeus ander mense seermaak, Here!
8 Laat hulle verdwyn soos water wat in die grond wegsyfer. Gee dat hulle wapens geen skade aan ander mense aanrig nie.
9 Hulle moet wegraak, soos ’n slak verdwyn as jy sout op hom gooi. Laat hulle soos ’n dooie baba wees na ’n miskraam. Sorg dat hulle nooit eens die lewe sien nie.
10 Raak ontslae van hulle soos ’n mens onkruid uittrek en weggooi. Laat die wind hulle wegwaai terwyl hulle jonk is.
11 Mense wat U dien, sal bly wees as hulle sien hoe U slegte dinge straf. Hulle sal vol vreugde wees as hulle sien hoe U slegte mense vergeld vir hulle slegte dade.
12 Almal wat dit raaksien, sal sê: Kyk, die Here beloon diegene wat Hom dien! Ja, daar’s regtig ’n God wat sorg dat reg op die aarde geskied.