Bible

Create

Inspiring Presentations Without Hassle

Try Risen Media.io Today!

Click Here

Psalms 116

:
Afrikaans - DB
1 Ek het die Here baie lief. Hy help my as ek Hom baie mooi vra.
2 Hy het mooi na my geluister. Daarom sal ek tot Hom bid so lank as wat ek lewe.
3 Ek het so amper doodgegaan. Ek het al paniekerig daaroor begin word. Ek was doodsbenoud en bekommerd.
4 Maar toe het ek ernstig tot die Here gebid. Ek het by Hom gepleit: “Ag, Here, spaar tog my lewe.”
5 Die Here was baie goed vir my. Hy sorg dat reg aan my gedoen word. Ons God het my soos ’n ma in sy liefde toegevou.
6 Die Here beskerm mense wat aan die einde van hulle kragte gekom het. Ek was in so ’n situasie. Toe ek op my swakste was, het Hy my gehelp.
7 Ek het toe vir myself gesê: “Jy kan ontspan. Wees rustig. Die Here was baie goed vir jou.”
8 Ja, U het my lewe gespaar. U het my getroos. U het gekeer dat ek ondergaan.
9 Daarom sal ek saam met die Here lewe tussen almal wat nog leef.
10 Ek het die Here vertrou toe ek gedink het ek kry baie swaar. Ek het gedink dis klaar met my.
11 Toe ek bang was, het ek gesê: “Jy kan geen mens vertrou nie.”
12 Hoe kan ek die Here ooit vergoed vir al die goeie dinge wat Hy vir my gedoen het?
13 Maar ek sal vir Hom iets terugdoen: ek sal vir Hom dankie sê. Ek sal na Hom toe gaan.
14 Ek het beloftes aan die Here gemaak. Ek sal dit hou sodat al sy kinders dit kan sien.
15 Sy kinders is vir Hom baie werd. Daarom laat Hy nie maklik toe dat een van hulle doodgaan nie.
16 Ek het gesê: “Regtig, Here, ek dien U. Ook my ouers het U gedien. U het my lewe gespaar.
17 Ek sal vir U iets doen om dankie te sê: ek sal U eer en aanbid.”
18 My beloftes aan die Here sal ek nakom waar al sy kinders dit kan sien.
19 Binne en buite die kerk sal ek dit nakom. Kom prys die Here!