Zephaniah 1
1 Die woord van die Here wat gekom het tot Sefanja seun van Kusi, seun van Gedalja, seun van Amarja, seun van Hiskia. Dit het gebeur in die regeringstyd van koning Josia van Juda, seun van Amon.
2 Ek gaan 'n einde maak aan alles op aarde, sê die Here,
3 Ek gaan 'n einde maak aan mens en dier, aan voëls en visse, Ek gaan 'n einde maak aan dié wat mense laat struikel het, en aan die goddeloses; Ek gaan die mense van die aarde af uitroei, sê die Here.
4 Ek gaan my hand uitsteek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem, Ek gaan uit hierdie plek uitroei wat daar nog van Baäl oor is: die naam van die afgodspriesters, van alle priesters:
5 dié wat op die dakke die hemelliggame aanbid, dié wat die Here aanbid en aan Hom trou sweer maar terselfdertyd ook aan Milkom,
6 dié wat die rug vir die Here draai, na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie.
7 Wag in stilte op die Here God! Die dag van die Here is naby! Hy het 'n maaltyd voorberei, en dié wat Hy genooi het, gewy.
8 Op die dag van die maaltyd sal Ek, die Here, die amptenare en die prinse straf, almal wat uitlandse klere dra.
9 Daardie dag sal Ek almal straf wat uit bygeloof nie eens op 'n drumpel trap nie en wat die huis van hulle Koning met geweld en bedrog vul.
10 Daardie dag, sê die Here, sal daar noodkrete klink uit die Vispoort uit, gehuil uit die tweede stadswyk, harde smartkrete van die heuwels af.
11 Huil, inwoners van die Vysel, want al die handelaars word uitgedelg, almal wat geld afweeg, word uitgeroei.
12 Daardie tyd sal Ek Jerusalem met lampe deursoek en die mense straf wat in hulle selftevredenheid dink: die Here doen nie goed óf kwaad nie.
13 Hulle besittings sal geplunder word, hulle huise verwoes word. Hulle sal huise bou, maar nie daarin woon nie, wingerde plant, maar nie die wyn drink nie.
14 Die groot dag van die Here is naby, baie naby, dit kom gou. Luister hoe bitter, hoe skril klink die geskreeu van die soldate dié dag!
15 Dié dag is 'n dag van toorn, 'n dag van nood en benoudheid, 'n dag van storms en verwoesting, 'n dag van donkerte, van duisternis, 'n dag van wolke, van swaar onweer,
16 'n dag waarop die ramshoring sal blaas en die krygsgeskreeu sal klink teen die vestingstede, teen die hoë hoektorings.
17 Ek laat angs die mense pak sodat hulle soos blindes loop, want hulle het teen My gesondig. Hulle bloed sal vergiet word asof dit so min werd is as stof, asof hulle liggame niks meer as uitwerpsel is nie.
18 Nóg hulle silwer nóg hulle goud sal hulle kan red op die dag wanneer die toorn van die Here losbreek, wanneer die hele land verteer word deur die vuur van sy woede. Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land.