Bible

Engage

Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Habakkuk 3

:
Afrikaans - AFR83
1 'n Gebed van die profeet Habakuk. Op die wysie van 'n klaaglied.
2 Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn.
3 God kom van Teman af, die Heilige kom van Paranberg af. Sela Die hemelruim is vol van sy majesteit, die aarde vol van sy roem.
4 Hy kom met die glans van die lig, weerligte blits uit sy hand, sy hand so vol mag.
5 Voor Hom uit gaan die pes, in sy voetstappe volg die dood.
6 Wanneer Hy staan, skud die aarde; wanneer Hy kyk, bewe die nasies. Die eeue-oue berge verkrummel, die ou-ou heuwels val inmekaar, die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het!
7 Ek het gesien hoe onheil die tente van Kusan tref, hoe die tentdoeke van Midian bewe.
8 Was U kwaad vir die riviere, Here? Het u toorn teen die strome ontvlam? Het die see U woedend gemaak dat U op u perde gery het, op die strydwaens waarmee U oorwin?
9 U het u boog uitgehaal en met 'n eed die opdrag aan die pyle bevestig. Sela U het die aarde oopgebreek en riviere laat stroom.
10 Toe die berge U sien, het hulle gebewe, stormwaters het verbygespoel, die diep water het gedreun en sy golwe hoog laat opslaan.
11 Toe u vlieënde pyle blits en u blink spies flikker, het die son en die maan gaan stilstaan op hulle plek.
12 In u gramskap stap U oor die aarde, in u toorn vertrap U die nasies.
13 U het uitgegaan om u volk te red, om u gesalfde koning te red. U verpletter die aanvoerder van die goddeloses, U stroop hulle kaal van kop tot tone. Sela
14 Met sy eie pyle deurboor U die aanvoerder wanneer sy manskappe uitstorm om ons te verstrooi terwyl hulle jubel soos dié wat die ellendiges in hulle skuilplekke verslind.
15 U trek deur die see met u perde sodat die magtige waters bruis.
16 Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan. Tog sal ek geduldig wag dat die dag van die oordeel moet kom oor die volk deur wie ons aangeval is.
17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees,
18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.
19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel.