Psalms 88
1 'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete. Vir die koorleier: met fluitspel. 'n Gedig van Heman die Esragiet.
2 Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U.
3 Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep.
4 Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk,
5 ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie.
6 Dit is asof ek al tussen die dooies is, tussen dié wat gesneuwel het en in hulle grafte lê, dié aan wie U nie meer dink nie en van wie U u hand teruggetrek het.
7 U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.
8 U gramskap rus swaar op my, U laat al u golwe oor my breek. Sela
9 U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks; ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.
10 My oë is al dof van ellende; die hele dag deur roep ek na U, Here, en steek ek my hande in gebed na U uit.
11 Sal U met dooies 'n wonder laat gebeur? Kan gestorwenes opstaan en U loof? Sela
12 Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel?
13 Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood, u redding in die land van vergetelheid?
14 Ek roep na U om hulp, Here, vroeg in die môre al bid ek tot U.
15 Waarom verstoot U my, Here, waarom trek U U van my af terug?
16 Ek ly swaar, ek kwyn al weg van my jeug af. Dit is 'n swaar las waarmee U my teister. Ek weet geen raad meer nie.
17 U toorn rus op my, U tref my met skrik en vernietig my.
18 Dit bedreig my heeldag soos vloedwater, dit sak op my toe van alle kante af.
19 U laat my vriende en my bure ver van my af staan, die duisternis van die dood is my geselskap.