Psalms 35AFR83

1Van Dawid. Behartig my saak teen dié wat my aankla, Here, tree op teen my vyande,

2gryp die skilde en kom help my.

3Vat die spies en keer my vervolgers. Laat ek U hoor sê: “Ek red jou!”

4Laat hulle wat my lewe soek, die slegste daarvan afkom en beskaamd staan. Laat hulle wat my ondergang soek, op die vlug slaan, teleurgestel in hulle verwagting.

5Laat die Engel van die Here hulle jaag soos kaf voor die wind.

6Maak hulle pad donker en glibberig en laat die Engel van die Here hulle agtervolg,

7want hulle het nie rede gehad om vir my 'n strik te stel en vir my 'n gat te grawe nie.

8Laat hulle einde skielik kom! Laat hulle in hulle eie strik beland! Laat hulle self in die gat val wat hulle gegrawe het!

9Maar ek sal juig in die Here, ek sal jubel oor die redding wat Hy bring.

10My hele wese sê: “Here, wie is soos U wat die swakke bevry van dié wat sterker is, die swakke en die arme van dié wat hom beroof?”

11Dit is kwaadwillige getuies wat teen my optree. Hulle beskuldig my van dinge waarvan ek niks weet nie.

12Hulle vergeld my kwaad vir goed, hulle gebruik elke geleentheid om my by te kom.

13En tog, toe húlle siek was, het ek getreur soos oor 'n sterfgeval: rouklere aangetrek en myself gekasty deur nie te eet nie. Ek het sonder ophou vir hulle gebid

14soos vir 'n vriend of 'n broer. Ek het rondgeloop soos een wat oor sy moeder treur, krom en in die rou.

15Maar nou dat ek in die moeilikheid is, is dit vir hulle lekker en span hulle saam teen my. Sonder dat ek weet waaroor, skeur hierdie skoorsoekers my uitmekaar en hulle kry nie end nie.

16Nou dat ek struikel, lag hulle daaroor; nou kom dreig hulle my.

17Hoe lank, Here, sal U dit duld? Red my kosbare lewe van die aanslag van hierdie mense wat my soos leeus bedreig.

18Dan sal ek U in 'n volle vergadering dank en voor die hele gemeente prys.

19Moenie dat hulle wat sonder rede my vyande is, hulle verlustig in my leed nie. Moenie dat dié wat my sonder aanleiding haat, hulle verlustig in my leed nie.

20Hulle wil nie vrede hê nie, hulle kom met vals beskuldigings teen vredeliewende mense.

21Hulle rek hulle monde teen my oop en sê: “Ja, ons het dit self gesien.”

22Maar U het gesien dit is nie so nie, Here. Moet tog nie swyg nie. Moenie ver van my af bly nie, Here.

23Tree tog vir my in, my God. Doen tog iets aan my saak, Here.

24U is regverdig, Here my God, laat reg aan my geskied, sodat hulle hulle nie in my leed verlustig nie.

25Moenie dat hulle vir hulleself sê: “Dis mos wat ons wou gehad het” nie. Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig” nie.

26Laat almal wat bly is oor my ellende, teleurgestel word in hulle verwagting en self in die ellende beland. Laat oor hulle wat op my neersien, skande en smaad kom.

27Maar dié wat wil hê ek moet vrygespreek word, laat hulle juig en bly wees, laat hulle altyd weer sê: “Die Here is groot. Hy sorg dat sy dienaar vrede het.”

28My tong sal nie stil word oor u trou nie, dag vir dag sal ek U loof.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Psalms 35.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.