Psalms 30
1 'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die tempel. Van Dawid.
2 Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees oor my nie.
3 Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak.
4 Here, U het my gered van die doderyk, my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.
5 Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof sy heilige Naam!
6 Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.
7 Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: “Niks sal my ooit laat wankel nie.”
8 Deur u goedheid het U my op 'n veilige berg laat staan, Here. Maar toe U U aan my onttrek het, het ek baie bang geword.
9 Ek het na U geroep, Here. Ek het U om genade gesmeek:
10 “Watter voordeel is daar in my ondergang as ek die graf moet ingaan? Kan stof U loof? Kan dit u trou verkondig?
11 Luister, Here, en wees my genadig! Help my, Here!”
12 Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.
13 Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof!