Job 12
1 Toe het Job weer gepraat:
2 “Werklik, julle is die enigste mense wat iets weet! Met julle sterf die wysheid uit!
3 Ek het ook verstand, net soos julle, ek staan nie vir julle terug nie. Wie weet nie al dié dinge nie?
4 “Ek is 'n grap vir my vriende, en dít iemand wat tot God roep en van Hom antwoord kry. 'n Regverdige, 'n vrome wat 'n grap is!
5 Vir dié wat geen kommer ken nie, pas ongeluk en smaad bymekaar, by dié wat struikel, pas 'n skop.
6 In die huise van die rowers is daar rus, en dié wat God se toorn verwek, is veilig, dié wat meen dat hulle vir God in hulle mag het.
7 “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel,
8 of praat met die aarde dat dit jou leer en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.
9 Wie van hulle weet nie almal dat die hand van die Here alles gemaak het nie?
10 Hy het al wat lewe, in sy mag, die asem van elke mens.
11 Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte kos proe nie?
12 “Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare.
13 By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig.
14 As Hy afbreek, kan niemand opbou nie, as Hy gevange neem, kan niemand vrylaat nie.
15 As Hy die water terughou, verdroog alles, as Hy dit laat losbreek, vernietig dit die aarde.
16 By Hom is daar mag en oorwinning, wie bedrieg en wie bedrieg word, is albei Syne.
17 Hy laat raadgewers van konings kaalvoet loop en maak van regeerders gekke.
18 Hy vernietig die gesag van konings en laat hulle slaweklere dra.
19 Hy laat priesters kaalvoet loop en laat dié wat die mag het, ondergaan.
20 Hy laat die betroubares swyg en verydel die goeie raad van leiers.
21 Hy laat smaad afkom op die koppe van die vernames en Hy neem die mag van sterkes weg.
22 Hy gee lig in donker dieptes, Hy maak donker plekke lig.
23 Hy maak nasies groot en Hy vernietig hulle, Hy laat nasies uitbrei en laat hulle tot niet gaan.
24 Hy ontneem wêreldleiers hulle verstand en laat hulle ronddwaal in 'n wilde wêreld sonder pad.
25 Hulle tas in die donker rond sonder lig, Hy laat hulle ronddwaal soos dronkmense.