Job 12AFR83

1Toe het Job weer gepraat:

2“Werklik, julle is die enigste mense wat iets weet! Met julle sterf die wysheid uit!

3Ek het ook verstand, net soos julle, ek staan nie vir julle terug nie. Wie weet nie al dié dinge nie?

4“Ek is 'n grap vir my vriende, en dít iemand wat tot God roep en van Hom antwoord kry. 'n Regverdige, 'n vrome wat 'n grap is!

5Vir dié wat geen kommer ken nie, pas ongeluk en smaad bymekaar, by dié wat struikel, pas 'n skop.

6In die huise van die rowers is daar rus, en dié wat God se toorn verwek, is veilig, dié wat meen dat hulle vir God in hulle mag het.

7“Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel,

8of praat met die aarde dat dit jou leer en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê.

9Wie van hulle weet nie almal dat die hand van die Here alles gemaak het nie?

10Hy het al wat lewe, in sy mag, die asem van elke mens.

11Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte kos proe nie?

12“Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare.

13By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig.

14As Hy afbreek, kan niemand opbou nie, as Hy gevange neem, kan niemand vrylaat nie.

15As Hy die water terughou, verdroog alles, as Hy dit laat losbreek, vernietig dit die aarde.

16By Hom is daar mag en oorwinning, wie bedrieg en wie bedrieg word, is albei Syne.

17Hy laat raadgewers van konings kaalvoet loop en maak van regeerders gekke.

18Hy vernietig die gesag van konings en laat hulle slaweklere dra.

19Hy laat priesters kaalvoet loop en laat dié wat die mag het, ondergaan.

20Hy laat die betroubares swyg en verydel die goeie raad van leiers.

21Hy laat smaad afkom op die koppe van die vernames en Hy neem die mag van sterkes weg.

22Hy gee lig in donker dieptes, Hy maak donker plekke lig.

23Hy maak nasies groot en Hy vernietig hulle, Hy laat nasies uitbrei en laat hulle tot niet gaan.

24Hy ontneem wêreldleiers hulle verstand en laat hulle ronddwaal in 'n wilde wêreld sonder pad.

25Hulle tas in die donker rond sonder lig, Hy laat hulle ronddwaal soos dronkmense.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Job 12.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.