Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Zechariah 10

:
Afrikaans - AFR20
1 Vra vir die Here reën in die tyd van die laatreëns. Die Here wat die donderwolke maak, sal vir hulle stortreën gee en vir die mens groen plante in die veld;
2 want die huisgode beloof bedrieglike dinge, en die waarsêers se visioene is vals. Hulle verkondig vals drome en hulle troos tevergeefs. Daarom trek die mense rond soos kleinvee, hulle kry swaar omdat daar nie 'n herder is nie.
3 “Teen die herders het my toorn ontbrand, die voorbokke gaan Ek straf.” Ja, die Here, Heerser oor alle magte, versorg sy kudde, die huis van Juda; Hy maak hulle soos sy trotse perd in die oorlog.
4 Uit Juda sal die hoeksteen kom, uit hom die tentpen, uit hom die strydboog; uit hom sal alle onderdrukkers saam weggaan.
5 Hulle sal soos krygshelde wees wat in 'n geveg die vyand in die modder van die strate vertrap. Hulle sal veg omdat die Here met hulle is, en hulle sal die vyand se perderuiters verneder.
6 Ek sal die huis van Juda sterk maak, en die huis van Josef sal Ek verlos. Ek sal hulle laat terugkom omdat Ek My oor hulle ontferm. Hulle sal wees asof Ek hulle nooit verwerp het nie, want Ek is die Here hulle God, en Ek sal hulle verhoor.
7 Efraim sal wees soos krygshelde, hulle harte sal vrolik wees soos van wyn. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal van harte juig oor die Here.
8 Ek sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak, want Ek het hulle verlos en hulle sal vermeerder soos voorheen.
9 Ek sal hulle tussen die volke saai en in verre lande sal hulle aan My dink. Hulle sal saam met hulle kinders leef en weer terugkom.
10 Ek sal hulle terugbring uit Egipteland, en uit Assirië sal Ek hulle bymekaarmaak. Na die gebied van Gilead en Libanon sal Ek hulle bring; maar dit sal nie vir hulle voldoende wees nie.”
11 Hulle sal in benoudheid deur die see trek, en Hy sal die golwe in die see verslaan. Al die dieptes van die Nyl sal opdroog. Die trots van Assirië sal tot 'n val gebring word, en die heerskappy van Egipte tot 'n einde kom.
12 “Ek sal hulle sterk maak in die Here; in sy Naam sal hulle leef,” is die uitspraak van die Here.