1Ek is 'n tulp van die Saron, 'n narsing uit die valleie.
2Soos 'n narsing tussen dorings, so is my liefling onder die meisies.
3Soos 'n appelboom tussen die bome van die bos, so is my liefste onder die jong mans. Ek sit graag in sy skaduwee, sy vrugte soet op my tong.
4Hy neem my na 'n wynhuis onder die vaandel van liefde.
5Verfris my met rosyntjies, verkwik my met appels, want ek is siek van liefde.
6Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my.
7Meisies van Jerusalem, ek besweer julle by die ribbok- en takbokooie van die veld: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie.
8Luister! My liefste! Kyk! Daar kom hy, al bokspringend oor die berge, al huppelend oor die heuwels!
9My liefste is soos 'n ribbok, soos 'n jong rooitakbok. Kyk! Hy staan agter ons huismuur, hy kyk by die vensters in, hy loer deur die latwerk.
10My liefste antwoord my, hy sê vir my: “Staan op, my liefling, my mooiste, en kom!
11Want kyk, die winter het verbygegaan, die reën is verby, dit het opgeklaar.
12Die veld staan in die blom. Die tyd om te sing het aangebreek, die gekoer van die tortelduiwe klink op in ons land.
13Die vyeboom laat sy groen vye uitswel, die wingerd bot en versprei sy geur. Staan op, my liefling, my mooiste, en kom!
14My duif in die rotsskeure, in die skuilplekke teen die bergkrans – laat my jou gesig sien, laat my jou stem hoor, want jou stem is soet en jou gesig is pragtig.”
15Vang vir ons die jakkalse – die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat bot.
16My liefste is myne en ek is syne, hy wat tussen die narsings wei.
17Totdat die dag begin asemhaal en die skaduwees vlug: Draai om, my liefste, wees soos 'n ribbok, soos 'n jong rooitakbok op die tweelingheuwels.