Revelation 15
1 Toe het ek in die hemel 'n ander groot en wonderbaarlike teken gesien, naamlik sewe engele met die sewe laaste plae, omdat die toorn van God daarmee tot 'n einde gekom het.
2 Ek het ook iets gesien soos 'n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en sy beeld, en die getal van sy naam het by die see van glas gestaan, terwyl hulle die siters van God vashou.
3 Hulle sing toe die lied van Moses, die dienskneg van God. Dit is ook die lied van die Lam, wat so lui: “Groots en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Regverdig en betroubaar is u paaie, o Koning van die nasies.
4 Wie sal dan nie vir U ontsag hê nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig! Al die nasies sal kom en in aanbidding voor U neerval, want u regverdige dade is geopenbaar.”
5 En hierna het ek gesien: Die tempel, die Tent met die Getuienis in die hemel, is geopen,
6 en die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel gekom. Hulle het blink klere van suiwer linne gedra, met 'n goue band om die bors gebind.
7 Een van die vier lewende wesens het toe aan die sewe engele sewe goue bakke gegee, gevul met die toorn van God, van Hom wat vir ewig en ewig leef.
8 En die tempel is met rook gevul, vol van die heerlikheid van God en sy mag, en niemand kon by die tempel ingaan, totdat die sewe plae van die sewe engele verby was nie.