Revelation 14
1 Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom is daar honderd vier-en-veertigduisend mense met sy Naam, en ook sy Vader se Naam, op hulle voorkoppe geskryf.
2 En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor, soos die gedruis van baie waters en die gerammel van swaar donderweer. Die geluid wat ek gehoor het, het geklink soos dié van lierspelers wat hulle liere bespeel.
3 Hulle het 'n nuwe lied voor die troon en in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die ouderlinge gesing. Niemand kon egter dié lied leer nie, behalwe die honderd vier-en-veertigduisend mense wat van die aarde losgekoop is.
4 Hulle is die mense wat hulle nie met vroue besoedel het nie, omdat hulle kuis is. Hulle volg die Lam, waar Hy ook al gaan. Hulle is uit die mense losgekoop, as eerstelinge vir God en die Lam.
5 En oor hulle lippe het geen enkele leuen gekom nie. Hulle is onberispelik.
6 Toe het ek 'n ander engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het 'n ewige evangelie ontvang, om dit te gaan verkondig aan die aardbewoners, aan elke nasie en stam en taal en volk.
7 Met 'n harde stem het hy uitgeroep: “Julle moet ontsag hê vir God en heerlikheid bewys aan Hom, want die tyd van sy oordeel het aangebreek. Aanbid Hom wat die hemel, die aarde, die see en die fonteine geskep het. ”
8 Ná hom het 'n ander engel, 'n tweede een, gekom en uitgeroep: “Geval, geval het Babilon, die magtige, sy wat al die nasies van die wyn van die wellus van haar hoerery laat drink het. ”
9 Ná hom het 'n ander engel, 'n derde een, gekom en met 'n harde stem uitgeroep: “As iemand die dier en sy beeld aanbid, en 'n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het,
10 sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.”
11 En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie.
12 Hiervoor het die •heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo.
13 Ek het toe 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”
14 Toe het ek gesien, en kyk, daar was 'n wit wolk, en op die wolk sit daar iemand net soos 'n •Seun van die Mens. Op sy kop het Hy 'n goue kroon, en in sy hand hou Hy 'n skerp sekel.
15 'n Ander engel het uit die tempel gekom, en met 'n harde stem geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd om te oes, het aangebreek, en die aarde is ryp vir die oes.”
16 Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die aarde is afgeoes.
17 Toe het daar 'n ander engel uit die tempel in die hemel gekom. Ook hy het 'n skerp sekel vasgehou.
18 Nog 'n engel, wat beheer oor die vuur gehad het, het van die altaar af gekom. Hy het met 'n harde stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en gesê: “Steek jou skerp sekel in, en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want die druiwe het ryp geword.”
19 Die engel het toe sy sekel oor die aarde geswaai, en die wingerd op die aarde afgeoes, en dit in die groot parskuip van God se toorn gegooi.
20 En die parskuip is buite die stad getrap. Uit die parskuip het daar bloed gevloei – sestienhonderd stadion ver, tot aan die perde se tooms.