1'n Maskiel. Van Etan, die Esragiet.
2Oor die troue liefde van die Here wil ek altyd sing; van geslag tot geslag wil ek u trou met my mond bekend maak.
3Ja, ek sê dit: Vir ewig word u troue liefde gevestig; in die hemel hou U u trou in stand.
4“Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, Ek het aan my dienskneg, Dawid, met 'n eed belowe,
5‘Vir altyd hou Ek jou nageslag in stand; van geslag tot geslag het Ek jou troon gevestig. ’ ”
6Die hemel moet u wonders prys, Here; ja, u trou in die byeenkoms van heiliges.
7Want wie in die uitspansel kan langs die Here gestel word? Wie onder die hemelwesens is aan die Here gelyk –
8'n uiters gedugte God in die kring van die heiliges, en gevrees deur almal om Hom?
9Here, God van alle magte, wie is so magtig soos U, Here? U trou omring U;
10U heers oor die deining van die see. Wanneer die golwe styg, bring U hulle tot bedaring.
11U, U het die deurboorde Rahab verpletter, met u sterk arm het U u vyande verstrooi.
12Aan U behoort die hemel, ook die aarde behoort aan U. Die wêreld en alles daarop – U, U het dit gegrondves.
13Die noorde en die suide – U, U het dit geskep. Tabor en Hermon jubel in u Naam.
14U het 'n magtige arm; u hand is sterk, u regterhand is verhewe.
15Reg en •geregtigheid is die grondslag van u troon; troue liefde en waarheid gaan U tegemoet.
16Gelukkig is die volk wat uitroepe van vreugde ken, wat in die lig van u teenwoordigheid loop, Here!
17In u Naam juig hulle die hele dag, in u geregtigheid roem hulle;
18want U is hulle kragtige sieraad. Deur u aanvaarding het U ons sterk gemaak.
19Want aan die Here behoort ons skild, aan die •Heilige van Israel behoort ons koning.
20U het destyds in 'n visioen 'n belofte gemaak aan u getroue volgelinge. U het gesê: “Ek het hulp verleen aan 'n held, Ek het 'n jong man uit die volk verhoog.
21Ek het Dawid, my dienskneg, gevind; met my heilige olie het Ek hom gesalf,
22hom by wie my hand bestendig sal wees; ja, my arm sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom nie onverhoeds betrap nie, en skurke sal hom nie verdruk nie.
24Sy teenstanders sal Ek voor hom verpletter, en sy haters sal Ek platslaan.
25My getrouheid en troue liefde sal met hom wees, en in my Naam sal hy sterk word.
26Ek sal sy hand op die see lê, op die riviere sy regterhand.
27Hy, hy sal my aanroep, ‘U is my Vader, my God, en die rots wat my verlos.’
28Ek sal hom dan •eersgeborene maak, die hoogste van die konings van die aarde.
29Vir altyd sal Ek vir hom my troue liefde handhaaf; en my verbond sal bestendig wees vir hom.
30Ek sal sy nageslag vir altyd vestig, en sy troon, solank as die hemel bestaan.
31“As sy seuns van my wet afwyk, volgens my beslissings nie leef nie;
32as hulle my vaste voorskrifte ontheilig, my bevele nie nakom nie,
33sal Ek hulle oortreding met slae straf en hulle sondeskuld met houe.
34Maar my troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek nie, en Ek sal nie my trou verloën nie.
35Ek sal my verbond nie skend nie en wat oor my lippe gegaan het, nie verander nie.
36Vir eens en vir altyd het Ek by my heiligheid gesweer; Ek sal nie vir Dawid lieg nie:
37Sy nageslag sal altyd daar wees en sy troon soos die son voor My,
38soos die maan wat altyd standhou – 'n betroubare getuie aan die hemelruim.”
39Maar U self het hom verstoot en verwerp, U was woedend vir u gesalfde.
40U het die verbond met u dienskneg opgehef, sy kroon tot in die grond ontheilig.
41U het al sy skermmure afgebreek, van sy versterkte stede ruïnes gemaak.
42Almal wat daar verbygaan, het hom geplunder; hy het 'n bespotting geword vir sy bure.
43U het die regterhand van sy teenstanders hoog gelig. U het al sy vyande bly gemaak.
44U, o Rots, het ook sy swaard teen hom gedraai; U het hom nie staande gehou in die stryd nie.
45U het sy glans laat verdof en sy troon, dié het U teen die grond gegooi.
46U het die dae van sy jeug kortgeknip, hom in skaamte gehul.
47Hoe lank nog, Here? Gaan U Uself vir ewig verberg, sal u woede soos 'n vuur bly brand?
48Dink daaraan – wat is my lewensduur? Om watter sinlose rede het U alle mensekinders geskape?
49Watter jong man leef en sien nie die dood nie; wie kan sy lewe aan die mag van die •doderyk laat ontkom?
50Waar is u troue liefde van vroeër, my Heer, wat U in u trou met 'n eed beloof het aan Dawid?
51My Heer, dink aan die bespotting van u diensknegte wat ek teen my bors dra; dink aan al die baie volke
52wat die spot dryf – aan u vyande, Here, wat die spot dryf met u gesalfde waar hy ook al gaan.
53Die Here moet vir ewig geprys word! Amen, amen.