Proverbs 15AFR20

1'n Sagte antwoord keer woede weg, maar 'n krenkende woord laat toorn opvlam.

2Die tong van wyses maak kennis lofwaardig, maar die mond van dwase stort sotheid uit.

3Op elke plek is die oë van die Here, hulle hou slegtes en goeies dop.

4Kalmte van die tong is 'n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees.

5'n Sot versmaai die vermaning van sy vader, maar hy wat teregwysing ter harte neem, is slim.

6In die huis van 'n regverdige is daar baie voorraad, maar in die opbrengs van 'n goddelose skuil daar teenspoed.

7Die lippe van wyses strooi kennis uit, maar die hart van dwase is nie so nie.

8Die offer van goddeloses is afstootlik vir die Here, maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring.

9Afstootlik vir die Here is die pad van 'n goddelose, maar wie geregtigheid nastreef, vir hom is Hy lief.

10'n Ernstige vermaning is gepas vir hom wat die pad verlaat; wie teregwysing haat, sal sterf.

11Die •doderyk en die onderwêreld lê oop voor die Here – hoeveel te meer die harte van mensekinders!

12'n Spotter hou nie daarvan as iemand hom teregwys nie; na wyses sal hy nie gaan nie.

13'n Vrolike hart laat die gesig goed lyk, maar by kommer in die hart is die gees neerslagtig.

14Die hart van 'n verstandige soek kennis, maar die monde van dwase word gevoed met sotheid.

15Al die lewensdae van 'n magtelose is sleg, maar vrolikheid van hart is 'n voortdurende fees.

16'n Bietjie, saam met ontsag vir die Here, is beter as 'n groot skat met paniek daarby.

17'n Porsie groente met liefde daarby is beter as 'n vetgevoerde bees met haat daarby.

18'n Opvlieënde man sit 'n stryery aan die gang, maar 'n geduldige mens bring 'n geskil tot bedaring.

19Die pad van 'n luiaard is soos 'n doringheining vol dorings, maar die weg van opregtes is gebaan.

20'n Wyse seun verbly sy vader, maar 'n dwase mens minag sy moeder.

21Sotheid is 'n vreugde vir iemand sonder verstand, maar 'n skerpsinnige mens loop 'n reguit pad.

22Planne misluk waar daar geen beraadslaging is nie, maar met baie raadgewers hou dit stand.

23'n Mens ervaar vreugde met die gepaste antwoord uit sy mond; ja, 'n woord op sy tyd – hoe goed is dit nie!

24Die weg na lewe lei opwaarts vir 'n verstandige mens, om so die doderyk daar onder te ontwyk.

25Die Here breek die huis van hovaardiges af, maar die gebied van 'n weduwee baken Hy af.

26Die planne van 'n bose mens is vir die Here afstootlik, maar vriendelike woorde is suiwer.

27Wie onregverdige wins maak, stort sy huis in die ongeluk, maar hy wat omkoopgeskenke haat, sal leef.

28Die hart van 'n regverdige oorweeg hoe om te antwoord, maar die mond van goddeloses stort booshede uit.

29Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy.

30Helder oë verheug die hart, 'n goeie berig verfris die liggaam.

31'n Oor wat luister na die teregwysing van die lewe, sal by wyses tuis wees.

32Wie vermaning in die wind slaan, verag sy eie lewe, maar wie na teregwysing luister, verkry verstand.

33Ontsag vir die Here is 'n vermaning tot wysheid, en nederigheid gaan eer vooraf.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 15.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.