1Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af.
2Wie in sy opregtheid die lewenspad loop, het ontsag vir die Here, maar hy wat op kronkelpaaie gaan, verag Hom.
3In die mond van 'n sot is daar 'n slaanding vir sy hoogmoed, maar die lippe van wyses beskerm hulle.
4Waar geen beeste is nie, is die voerkrip leeg; maar groot is die opbrengste deur die krag van 'n bul.
5'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n vals getuie ryg leuens uit.
6'n Spotter soek wysheid, maar daar is niks; kennis is vir 'n verstandige maklik.
7Bly weg van 'n dwase man; jy sal nie lippe met kennis leer ken nie.
8Die wysheid van 'n slim mens is om sy lewenspad te verstaan, maar die sotheid van dwase is bedrog.
9Sondeskuld maak 'n bespotting van sotte, maar tussen opregtes is daar welwillendheid.
10Die hart ken sy eie bitterheid, en in sy vreugde kan 'n buitestander nie deel nie.
11Die huis van goddeloses word verdelg, maar die tent van opregtes gedy.
12Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood.
13Ook onder gelag kan 'n hart pyn ervaar; die einde van vreugde is verdriet.
14Van sy eie optrede kry 'n afvallige genoeg, en 'n goeie man kry genoeg van wat oor hom kom.
15Onkundiges glo elke woord, maar 'n slim mens oorweeg sy voetstappe.
16'n Wyse is versigtig en vermy die kwaad, maar 'n dwaas is humeurig en vol selfvertroue.
17Wie kort van humeur is, begaan 'n sotheid, en iemand met slinkse planne word gehaat.
18Onverstandiges erf sotheid, maar slim mense dra kennis as hoofbedekking.
19Slegtes buig neer voor goeies, en goddeloses by die poorte van 'n regverdige.
20Selfs deur sy medemens word 'n arme gehaat, maar die vriende van 'n ryke is baie.
21Wie sy medemens verag, sondig; maar wie medelye het met magteloses, is gelukkig.
22Is hulle wat kwaad beplan nie op 'n dwaalspoor nie, en is troue liefde en waarheid nie bestem vir hulle wat die goeie beplan nie?
23In alle harde werk is daar voordeel, maar 'n blote gepraat lei net tot gebrek.
24Die kroon van wyses is hulle rykdom; die sotheid van dwase is blote sotheid.
25'n Betroubare getuie red lewens, maar wie leuens uitryg, is bedrieglik.
26In ontsag vir die Here lê daar sterk vertroue, en vir iemand se kinders bied dit 'n skuilplek.
27Ontsag vir die Here is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word.
28In 'n oorvloed van mense lê 'n koning se luister, maar in die afwesigheid van 'n volk, lê 'n hooggeplaaste se ondergang.
29Die geduldige mens is ryk aan verstandigheid, maar wie kort van humeur is, stel sotheid ten toon.
30'n Kalm hart gee lewe aan die liggaam, maar naywer is verrotting in die gebeente.
31Hy wat 'n arme uitbuit, beledig sy Maker, maar wie hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom.
32Deur sy boosheid word 'n goddelose omvergewerp, maar 'n regverdige vind 'n skuilplek, selfs by sy dood.
33In die hart van 'n verstandige rus wysheid; selfs onder dwase is dit bekend.
34Geregtigheid verhoog 'n nasie, maar sonde is 'n skande vir volke.
35Die welwillendheid van die koning is daar vir 'n verstandige dienaar, maar sy gramskap is bedoel vir 'n skandemaker.