Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Numbers 27

:
Afrikaans - AFR20
1 Die dogters van Selofgad hulle name was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa, van die Manasse-familiegroep het na vore getree. Selofgad was die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, seun van Josef.
2 Hulle het voor Moses, die priester Eleasar, die leiers en die hele volksvergadering by die ingang van die •Tent van Ontmoeting gaan staan en gesê:
3 Ons vader is oorlede in die woestyn. Hy was egter nie onder die bende nie daardie bende van Korag wat teen die Here saamgespan het. Maar deur sy eie sonde het hy gesterf, en hy het nie seuns gehad nie.
4 Waarom moet ons vader se naam verdwyn uit sy familiegroep omdat hy nie 'n seun gehad het nie? Gee vir ons erfgrond tussen ons vader se broers.”
5 Moses het hulle saak toe voor die Here gebring.
6 Die Here het vir Moses gesê:
7 Die dogters van Selofgad se versoek is billik. Jy moet beslis vir hulle onvervreembare erfgrond gee tussen hulle vader se broers. Jy moet hulle vader se erfdeel na hulle laat oorgaan.
8 Met die Israeliete moet jy praat en sê, ‘As iemand sterf en hy het nie 'n seun nie, moet julle sy erfdeel na sy dogter laat oorgaan.
9 En as hy nie 'n dogter het nie, moet julle sy erfdeel vir sy broers gee.
10 En as hy nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy vader se broers gee.
11 En as sy vader nie broers het nie, moet julle sy erfdeel vir sy bloedverwant gee wat die naaste aan hom is in sy familiegroep. Hy moet dit dan in besit neem. Dit moet vir die Israeliete 'n wetlike voorskrif wees, soos die Here Moses beveel het.’
12 Die Here het vir Moses gesê: “Klim teen hierdie Abarimberge op en kyk na die land wat ek vir die Israeliete gegee het.
13 Wanneer jy dit gesien het, sal ook jy, soos jou broer Aäron, met jou mense verenig word,
14 aangesien julle in die Tsinwoestyn, toe die volksvergadering in opstand was, my bevel om my heiligheid voor hulle te erken, verontagsaam het met die gee van water. Dit was by die water van Meriba-Kades in die Tsinwoestyn.”
15 Moses het met die Here gepraat en gesê:
16 Mag die Here, die God wat lewensasem gee aan alle vlees, 'n man oor die volksvergadering aanstel
17 wat voor hulle uit kan trek en voor hulle kan ingaan, ja, wat hulle kan uitlei en wat hulle kan teruglei, sodat die volksvergadering van die Here nie soos kleinvee sonder 'n herder is nie.”
18 Die Here het vir Moses gesê: “Neem Josua, seun van Nun, 'n man met geesdrif, en jou hande op hom.
19 Laat hom voor die priester Eleasar staan en voor die hele volksvergadering, en gee hom voor hulle sy opdragte.
20 Dra van jou gesag oor op hom, sodat die hele volksvergadering van die Israeliete na hom sal luister.
21 Maar by die priester Eleasar moet hy aanmeld, sodat dié vir hom deur die beslissing van die Urim by die Here navraag kan doen. Op sy bevel moet hulle vir 'n geveg uittrek, en op sy bevel moet hulle terugkeer, hy en al die Israeliete saam met hom, die hele volksvergadering.”
22 Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleasar en die hele volksvergadering laat staan.
23 Hy het sy hande op hom gelê en hom sy opdragte gegee, soos wat die Here by monde van Moses gesê het.