Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Luke 8

:
Afrikaans - AFR20
1 Kort daarna het Jesus deur die een stad en dorp na die ander gereis om te preek en die evangelie van die •koninkryk van God te verkondig. Die twaalf het saam met Hom gereis,
2 en ook 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees is, naamlik Maria, wat bekend was as Magdalena, uit wie sewe demone uitgegaan het,
3 en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna, en baie ander wat uit hulle eie bronne vir Jesus en die twaalf gesorg het.
4 Uit die een dorp die ander het mense na Jesus gestroom; en toe 'n groot skare van hulle bymekaar was, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel:
5 “'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval; dit is vertrap en die voëls van die hemel het dit kom oppik.
6 'n Ander deel het op 'n klipbank geval; en toe dit opkom, het dit verdor, omdat daar geen vogtigheid was nie.
7 Nog 'n deel het tussen die dorings geval, en die dorings het saam met die saad gegroei en dit verstik.
8 En nog 'n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en 'n honderdvoudige opbrengs gelewer.” Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, roep Hy uit: “Laat dié wat ore het om te hoor, luister!”
9 Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken.
10 Hy het geantwoord: “Aan julle is gegee om die geheimenisse van die •koninkryk van God te verstaan, maar vir ander bly dit bloot gelykenisse, sodat hulle ‘selfs al kyk hulle, nie sal sien nie, en selfs al hoor hulle, nie sal verstaan nie.’
11 “Dit is wat die gelykenis beteken: Die saad is die woord van God.
12 Die saad langs die pad is die mense wat die woord wel hoor, maar dan kom die Duiwel en neem die woord uit hulle harte weg, sodat hulle nie tot geloof kom en verlos word nie.
13 Die saad wat op die klipbank val, is daardie mense wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar hulle het nie wortel geskiet nie. Hulle glo net 'n rukkie, en wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit.
14 Die saad wat tussen die dorings val, is diegene wat die woord hoor; maar hulle word deur bekommernisse en rykdom en die plesiere van hierdie lewe verstik, en lewer geen oes nie.
15 Die saad wat in die vrugbare grond val, is daardie mense wat die woord met 'n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra.”
16 Niemand steek 'n lamp op en maak dit toe met 'n houer, of sit dit onder 'n bed nie. Trouens, 'n mens sit dit op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien.
17 Daar is niks verborge wat nie blootgelê sal word nie, en niks weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.
18 “Let daarom op hoe julle luister. Wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal selfs dit wat hy dink hy het, weggeneem word.
19 Jesus se moeder en broers het na Hom gekom, maar as gevolg van die skare kon hulle Hom nie bereik nie.
20 Iemand toe vir Hom: “U moeder en broers staan buite en wil U graag sien.”
21 Maar Jesus antwoord hulle: “Wie na die woord van God luister en dit gehoorsaam, hulle is my moeder en my broers.”
22 Op 'n sekere dag het Jesus en sy dissipels in 'n boot geklim, en Hy het vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer,” en hulle het uitgevaar.
23 Tydens die vaart het Hy aan die slaap geraak. 'n Hewige stormwind het op die meer neergeswiep. Die boot het vol water begin word, en hulle was in lewensgevaar.
24 Hulle het Jesus gaan wakker maak en uitgeroep: “Meester, Meester, ons vergaan!” Hy het opgestaan en die wind en die stormsee bestraf. Dit het bedaar, en alles het kalm geword.
25 Toe Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?” Hulle was met ontsag vervul en verwonderd, en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat Hy die winde en die water bestraf en hulle Hom gehoorsaam?”
26 Hierna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat oorkant Galilea geleë is.
27 Toe Jesus aan wal stap, het 'n man wat in die mag van demone was, Hom uit die dorp tegemoet gegaan. Hy het al vir 'n hele ruk nie meer klere gedra nie, en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen die rotsgrafte.
28 Toe hy Jesus sien, het hy uitgeroep, voor Hom neergeval en met 'n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, •Seun van God, die Allerhoogste! Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”
29 Want Jesus was op die punt om die •onrein gees wat hom al baie kere beetgepak het, te beveel om uit die man uit te gaan. Hulle het hom voortdurend met hand- en voetboeie geboei om hom in bedwang te hou, maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en is deur die demoon na verlate plekke gedryf.
30 Jesus het hom gevra: “Wat is jou naam?” “Legioen,” het hy geantwoord, want baie demone het in hom ingevaar.
31 Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onpeilbare diepte te laat weggaan nie.
32 Daar het 'n taamlike groot trop varke teen die berghang gewei. Hulle het Hom gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar, en Hy het hulle toegelaat.
33 Die demone het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop het op loop gesit teen die helling af, die see in, en versuip.
34 Toe die wagters dit sien gebeur, het hulle op die vlug geslaan en dit in die dorp en op die platteland gaan vertel.
35 Die mense het gaan kyk na wat gebeur het, en toe hulle by Jesus aankom, vind hulle die man uit wie die demone uitgegaan het, waar hy by Jesus se voete sit, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword.
36 Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene gered is.
37 Toe het al die inwoners van die omgewing van Gerasa Jesus versoek om van hulle af weg te gaan, omdat hulle deur groot angs oorval is. Hy het toe in die boot geklim en teruggekeer.
38 Die man uit wie die demone uitgegaan het, het Jesus gesmeek om by Hom te kon bly. Maar Hy het hom weggestuur en gesê:
39 “Gaan terug na jou huis en vertel daar wat God alles vir jou gedoen het.” Hy het toe weggegaan en dwarsdeur die dorp bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.
40 Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het.
41 Kyk, daar kom toe 'n man aan met die naam Jaïrus. Hy was 'n leier van die •sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom,
42 omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring.
43 Onder hulle was daar 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie.
44 Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.
45 “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het •Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.”
46 Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.”
47 Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.
48 Toe Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!
49 Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.”
50 Maar Jesus het dit gehoor en vir hom gesê: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net, en sy sal gered word.”
51 Toe Jesus by die huis aankom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus, en die kind se vader en moeder.
52 Almal het gehuil en gerou oor haar. Maar Jesus het gesê: “Moenie huil nie, want sy het nie gesterf nie, maar slaap net.”
53 Hulle het Hom egter uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy gesterf het.
54 Maar Jesus het haar aan die hand geneem en uitgeroep: “Meisie, word wakker!”
55 Haar gees het teruggekeer, en sy het dadelik opgestaan. Jesus het beveel dat hulle vir haar iets te ete moet gee.
56 Haar ouers was oorstelp van blydskap, maar Jesus het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.