Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Judges 18

:
Afrikaans - AFR20
1 In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie. En in daardie tyd was die stam van Dan op soek na 'n erfdeel vir hulle om hulle te vestig. Want tot op daardie dag het nog geen plek tussen die stamme van Israel as erfdeel aan hulle toegeval nie.
2 Toe stuur die nakomelinge van Dan uit al die manne wat hulle het, vyf manne uit hulle familiegroep, onverskrokke manne, vanaf Sora en Estaol, om die land te verken en deur te kyk. Hulle het vir die manne gesê: “Gaan kyk die land deur!” Hulle het toe in die heuwelland van Efraim ingegaan tot by die huis van Miga en daar oornag.
3 Toe hulle naby Miga se huis was, het hulle die stem van die jong man, die Leviet, herken, en toe het hulle daarheen afgedraai. Hulle het hom gevra: “Wie het jou hierheen laat kom? Wat doen jy op hierdie plek? Watter belang het jy hier?”
4 Hy toe vir hulle: “Miga het dit en dat vir my gedoen; en hy het my gehuur en ek het vir hom 'n priester geword.
5 Daarop vra hulle hom: “Raadpleeg God asseblief, sodat ons kan weet of die reis waarop ons nou is, voorspoedig sal afloop.”
6 Die priester het vir hulle gesê: “Gaan in vrede! Die pad waarop julle gaan, is voor die Here.
7 Die vyf manne het verder gegaan en by Lajis aangekom. Hulle merk toe dat die mense wat daar is, rustig woon, soos dit die gewoonte van die Sidoniërs was onverstoord en rustig, met niks in die land wat skade aanrig of wat welvaart bedreig nie. Hulle was ver van die mense van Sidon en het niks met enigiemand te doen gehad nie.
8 Toe die vyf manne by hulle volksgenote in Sora en Estaol aankom, vra dié vir hulle: “Hoe het dit gegaan?”
9 Hulle antwoord: “Maak gereed, laat ons optrek teen hulle! Want ons het die land gesien, en kyk, dit is baie goed. Weifel julle nog? Moenie aarsel om te gaan, om die land in besit te gaan neem nie!
10 Wanneer julle die gebied binnegaan, sal julle aankom by 'n rustige volk en 'n gebied wat na alle kante wyd uitstrek. Ja, God gee dit in julle hand 'n plek waar daar niks kortkom van enigiets wat in die land is nie.
11 Hulle het toe daarvandaan weggetrek, uit Sora en Estaol, seshonderd manne uit die familiegroep van Dan, met hulle wapens aangegord.
12 Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom noem hulle daardie plek Magane-Dan; dit is vandag nog so. Kyk, dit wes van Kirjat-Jearim.
13 Daarvandaan het hulle die grens oorgesteek na die heuwelland van Efraim en by Miga se huis aangekom.
14 Die vyf manne wat gegaan het om die gebied by Lajis te verken, het toe aan die woord gekom en vir hulle volksgenote gesê: “Weet julle dat daar in hierdie geboue 'n efod, huisgode, 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld is? Julle weet dan nou wat julle moet doen.”
15 Hulle het toe daarheen afgedraai en by die woonplek van die jong man, die Leviet in Miga se huishouding, aangekom en hom gegroet.
16 Die seshonderd manne uit die nakomelinge van Dan, met hulle wapens aangegord, het stelling ingeneem by die toegangspoort.
17 Die vyf manne wat die land gaan verken het, het opgegaan, daar ingekom en die gesnede beeld, die efod, die huisgode en die gegote beeld gevat. Die priester het by die ingang van die poort by die seshonderd gewapende manne bly staan,
18 terwyl hulle by Miga se huis ingegaan en die gesnede beeld, die efod, die huisgode en die gegote beeld gevat het. Die priester vra toe vir hulle: “Wat doen julle?”
19 Hulle het vir hom gesê: “Bly stil! Sit jou hand voor jou mond en gaan saam met ons. Wees vir ons 'n vader en 'n priester. Is dit vir jou beter om 'n priester te wees vir die huishouding van een man, of om priester te wees vir 'n stam en familiegroep in Israel?”
20 Dit het die priester se hart bly gemaak. Hy het die efod, die huisgode en die gesnede beeld geneem en by die manskappe aangesluit.
21 Hulle het toe omgedraai en verder gegaan. Hulle het die afhanklikes, die vee en die waardevolle goedere aan die voorpunt geplaas.
22 Hulle was al 'n hele ent weg van Miga se huis af, toe die manne wat naby Miga se huis woon, opgeroep is. Hulle het die nakomelinge van Dan ingehaal
23 en na hulle geroep. Die nakomelinge van Dan het omgekyk en vir Miga gesê: “Wat is dit met jou dat jy jou mense opgeroep het?”
24 Hy het geantwoord: “My gode wat ek gemaak het, het julle gevat, ook nog my priester, en weggegaan. Wat bly vir my oor? Hoe kan julle dan vir my sê, ‘Wat is dit met jou?’
25 Maar die nakomelinge van Dan het hom geantwoord: “Moenie op ons kom skreeu nie, anders val opvlieënde manne jou dalk aan en verloor jy jou lewe en dié van jou huismense.”
26 Die nakomelinge van Dan het toe verder gegaan op hulle reis. Toe Miga sien dat hulle te sterk vir hom was, het hy omgedraai en teruggegaan na sy huis.
27 Hulle het dit wat Miga gemaak het en die priester wat hy gehad het, saamgeneem en Lajis, 'n onverstoorde en rustige volk, oorval. Hulle het hulle met die skerpte van die swaard verslaan en die dorp afgebrand.
28 Niemand kon hulle red nie, want die dorp was ver van Sidon af en hulle het niks met enigiemand te doen gehad nie. Die dorp was in die vallei wat by Bet-Regob is. Hulle het die dorp herbou en daarin gewoon.
29 Hulle het die dorp Dan genoem, na hulle voorvader Dan wat vir Israel gebore is. Voorheen was die naam van die dorp Lajis.
30 Die nakomelinge van Dan het die godsbeeld toe vir hulle opgerig. Jonatan, seun van Gersom, seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die stam van Dan tot die tyd toe die land se mense in ballingskap gegaan het.
31 Hulle het Miga se gesnede beeld wat hy gemaak het, vir hulle in stand gehou, so lank as wat die huis van God in Silo was.