Judges 17
1 Daar was 'n man uit die heuwelland van Efraim. Sy naam was Miga.
2 Hy het vir sy moeder gesê: “Daardie eenduisend eenhonderd sikkel silwer wat van ma gesteel is, en waaroor ma 'n vloek uitgespreek het, wat ma ook ten aanhore van my herhaal het – kyk, die silwer is hier by my. Dit is ek wat dit gevat het.” Sy moeder het gesê: “Geseënd is my seun, deur die Here. ”
3 Hy het toe die eenduisend eenhonderd sikkel silwer teruggegee vir sy moeder, maar sy moeder het gesê: “Ek wy die silwer volledig aan die Here. Dit is uit my hand vir my seun, om daarvan 'n gesnede beeld en 'n gegote beeld te maak. Ek gee dit dan nou weer vir jou.”
4 Maar hy het die silwer weer vir sy moeder teruggegee, en sy moeder het tweehonderd sikkel silwer geneem en dit vir 'n silwersmid gegee. Hy het 'n gesnede beeld, 'n gegote beeld, daarvan gemaak, en dit was toe in Miga se huis.
5 Hierdie man, Miga, het 'n heiligdom gehad. Hy het 'n efod en huisgode gemaak en een van sy seuns gewy, en dié het vir hom as priester opgetree.
6 In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.
7 Daar was 'n jong man uit Betlehem in Juda, van 'n familiegroep in Juda, maar hy was 'n Leviet en het daar tydelike verblyf gehad.
8 Hierdie man het uit die dorp gegaan, uit Betlehem in Juda, om tydelike verblyf te kry, waar hy dit ook al kon vind. Terwyl hy op pad was, kom hy toe in die heuwelland van Efraim by Miga se huis aan.
9 Miga het hom gevra: “Waar kom jy vandaan?” Hy het hom geantwoord: “Ek is 'n Leviet uit Betlehem in Juda, en ek is op reis om tydelike verblyf te kry, waar ek dit ook al kan vind.”
10 Toe sê Miga vir hom: “Bly by my en wees vir my 'n vader en 'n priester. Ek sal vir jou tien sikkel silwer in 'n jaar gee, asook klere en jou lewensonderhoud.” Die Leviet het daarmee akkoord gegaan.
11 Toe het die Leviet besluit om by die man te bly. Die jong man was vir die man soos een van sy eie seuns.
12 Miga het die Leviet gewy en die jong man het vir hom 'n priester geword en in Miga se huis gebly.
13 Miga het gesê: “Nou weet ek dat die Here vir my goed sal wees, omdat die Leviet vir my 'n priester geword het.”