John 3
1 Daar was 'n man uit die geledere van die •Fariseërs met die naam Nikodemus, 'n leier van die Jode.
2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n leermeester is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens verrig wat u verrig as God nie met hom is nie. ”
3 Jesus het hom geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die •koninkryk van God nie sien nie.”
4 Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan 'n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?”
5 Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie.
6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees.
7 Moenie daaroor verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word’ nie.
8 Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.”
9 Hierop vra Nikodemus Hom: “Hoe kan hierdie dinge gebeur?”
10 En Jesus het hom geantwoord: “Jy is dié leermeester van Israel en jy begryp hierdie dinge nie?
11 Amen, amen, Ek sê vir jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle ons getuienis nie!
12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle glo nie, hoe sal julle dan glo as Ek julle van die hemelse vertel?
13 En niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, dit is die •Seun van die Mens.
14 En net soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die Mens verhoog word,
15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.”
16 Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.
18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.
19 En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was.
20 Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel kan word nie.
21 Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is.
22 Hierna het Jesus en sy dissipels na die landstreek Judea gegaan en daar 'n rukkie saam met hulle vertoef, en mense laat doop.
23 Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, omdat daar baie water daar was, en mense gekom het om hulle te laat doop.
24 Johannes was immers nog nie in die tronk gegooi nie.
25 Daar het toe 'n woordestryd tussen sommige van Johannes se dissipels en 'n Jood oor die seremoniële reiniging ontstaan.
26 Hulle kom toe na Johannes en sê vir hom: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, die Een van wie u getuig het – kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.”
27 Johannes het geantwoord: “'n Mens kan niks ontvang as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie.
28 Julle kan self getuig dat ek gesê het dat ek nie die Christus is nie, maar dat ek voor Hom uitgestuur is.
29 Die een wat die bruid het, is die bruidegom, maar die vriend van die bruidegom wat daar staan en na hom luister, is baie bly oor die stem van die bruidegom. Daarom is hierdie blydskap van my volkome.
30 Hy moet meer word, en ek minder.
31 “Die Een wat van bo af kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.
32 Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie.
33 Wie sy getuienis aanvaar het, het plegtig bevestig dat God waaragtig is.
34 Want Hy vir wie God gestuur het, spreek die woorde van God; God skenk immers die Gees nie in geringe mate nie.
35 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.
36 Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom. ”