Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

John 15

:
Afrikaans - AFR20
1 “Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer.
2 Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
3 Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.
4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.
5 Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.
6 As iemand nie in My bly nie, word hy soos 'n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
7 As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur.
8 Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.”
9 “Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde.
10 As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly.
11 Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees.
12 Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het.
13 Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende.
14 Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.
15 Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat 'n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
16 Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee.
17 Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê.”
18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.
19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle.
20 Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde gehoorsaam het, sal hulle ook julle woorde gehoorsaam.
21 Hulle sal julle al hierdie dinge aandoen, ter wille van my Naam, omdat hulle Hom wat My gestuur het, nie ken nie.
22 As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie sonde gehad het nie; maar nou het hulle nie 'n verskoning vir hulle sonde nie.
23 Wie My haat, haat ook my Vader.
24 As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie sonde gehad het nie. Nou het hulle dit egter gesien, en tog haat hulle My én my Vader.
25 Maar die uitspraak wat in hulle wet opgeteken staan, moet in vervulling gaan, ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’
26 “Wanneer die Parakleet kom wat Ek van die Vader af aan julle sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig.
27 En julle moet ook getuig, omdat julle van die begin af by My is.