John 1
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2 Hy was in die begin by God.
3 Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4 In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.
5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
6 Daar was 'n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was.
7 Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo.
8 Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld.
10 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie.
11 Hy het gekom na wat syne was en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie.
12 Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo.
13 Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore.
14 En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.
15 Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ”
16 Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade.
17 Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
18 Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.
19 En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem na hom gestuur het om hom te vra: “Wie is u?”
20 Hy het verklaar, dit nie ontken nie, maar openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”
21 Hulle vra hom toe: “Wat dan? Is u Elia?” En hy sê: “Ek is nie.” “Is u dié Profeet?” En hy antwoord: “Nee!”
22 Hulle sê toe vir hom: “Wie is u? Ons moet 'n antwoord verskaf aan hulle wat ons gestuur het. Wat het u oor uself te sê?”
23 Hy antwoord toe, “Ek is ‘die stem van een wat uitroep in die woestyn: “Maak die pad van die Here reguit!” ’ – “soos die profeet Jesaja gesê het.”
24 Daar was ook afgevaardigdes uit die geledere van die •Fariseërs,
25 en hulle het hom gevra: “As u nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, waarom doop u dan?”
26 Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.
27 Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. ”
28 Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.
29 Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
30 Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’
31 Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.”
32 En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly.
33 Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’
34 En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ”
35 Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan.
36 Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!”
37 Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg.
38 Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?”
39 Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur.
40 Andreas, die broer van Simon •Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het.
41 Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus.
42 Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus.
43 Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea te gaan, en toe Hy Filippus teëkom, sê Hy vir hom: “Volg My!”
44 Filippus was afkomstig van Betsaida, die tuisdorp van Andreas en Petrus.
45 Filippus loop toe vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die Wet geskryf het, en ook die Profete – Jesus wat van Nasaret kom, die seun van Josef.”
46 En Natanael vra hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Filippus sê vir hom: “Kom kyk!”
47 Jesus het Natanael na Hom sien aankom, en sê toe van hom: “Kyk, hy is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.”
48 Natanael vra Hom: “Waarvandaan ken U my?” Jesus het hom geantwoord: “Nog voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.”
49 Toe antwoord Natanael Hom: “Rabbi, U is die •Seun van God; U is die Koning van Israel!”
50 Jesus antwoord hom: “Glo jy omdat Ek jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge sien.”
51 En Hy sê vir hom: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God wat opstyg en neerdaal op die •Seun van die Mens.”