Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Joel 3

:
Afrikaans - AFR20
1 Ja, wanneer Ek in daardie dae, in daardie tyd, die lot van Juda en Jerusalem verander,
2 sal Ek al die nasies versamel en hulle afbring na die vallei van Josafat! Ek sal daar met hulle in 'n regstryd tree oor my volk en my erfdeel, oor Israel, wat deur hulle onder die nasies verstrooi is. Hulle het my land verdeel
3 en oor my volk lootjies getrek. Hulle het die seuns geruil vir prostitute en die meisies verkoop vir wyn en dit uitgedrink.
4 Verder, wat het julle met My te doen, Tirus en Sidon en al die gebiede van Filistea? Wil julle julle op My wreek? As julle My iets wil aandoen, sal Ek gou, blitsvinnig, julle dade op julle koppe laat neerkom,
5 omdat julle my silwer en my goud gevat het; my kosbare skatte het julle in julle tempels ingevat
6 en die kinders van Juda en Jerusalem het julle aan die Grieke verkoop om hulle ver van hulle grondgebied weg te neem.
7 Kyk, nou gaan Ek hulle ontbied uit die plek waarheen julle hulle verkoop het. Ek sal julle dade op julle koppe laat neerkom:
8 Ek gaan julle seuns en julle dogters verkoop aan die kinders van Juda, en hulle sal hulle weer verkoop aan die Sabeërs, aan 'n nasie ver hiervandaan.” Voorwaar, die Here het dit self gesê.
9 Roep dit uit onder die nasies, berei voor vir 'n heilige oorlog, ontbied die krygshelde; laat al die krygsmanne nader kom, laat hulle optrek.
10 Smee van julle ploegskare swaarde, en van julle snoeimesse steekspiese, selfs die swakke moet sê: “Ek is 'n held!”
11 Maak gou en kom, maak al die omringende nasies bymekaar. Here, laat u krygshelde terugkeer!
12 “Die nasies moet in beweging kom en optrek na die vallei van Josafat, want dit is waar Ek gaan sit om al die omringende nasies te oordeel.”
13 Steek die sekel in, want die oes is ryp! Klim in, trap, want die parskuip is vol en die giskuipe loop oor, want hulle boosheid is groot!
14 Skares, daar is skares mense in die dal van beslissing! Ja, die dag van die Here is naby in die dal van beslissing!
15 Die son en maan word donker, die sterre hou hulle glans terug.
16 En die Here, uit Sion brul Hy, uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die Here is 'n toevlugsoord vir sy volk, 'n skuilplek vir die Israeliete.
17 “Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg. Dan sal Jerusalem 'n heilige plek wees, en vreemdes sal nie weer deur haar gebied trek nie.”
18 Op daardie dag sal die berge drup van die sap van druiwe, en die heuwels sal vloei van melk, en al die spruite van Juda sal stroom van water. 'n Fontein sal uit die huis van die Here vloei, en dit sal die Sittimdal natlei.
19 Egipte sal 'n verlate plek word en Edom 'n verlate woestyn vanweë die geweld teen die kinders van Juda, omdat hulle onskuldige bloed in Juda vergiet het.
20 Maar Juda sal vir altyd bly, en Jerusalem van geslag tot geslag.
21 “Ek sal hulle bloed wreek wat Ek voorheen nie gewreek het nie.” Ja, die Here woon in Sion!