Amos 1
1 Die woorde van Amos, een van die herders uit Tekoa – woorde wat aan hom geopenbaar is oor Israel. Dit was twee jaar voor die aardbewing, in die tyd van Ussia, die koning van Juda, en Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel.
2 Hy het gesê: “Die Here brul uit Sion, uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor. Die weivelde van die herders verdroog, die top van Karmel verdor.”
3 So sê die Here: “Oor drie oortredings van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle Gilead met dorssleë van yster gedors het.
4 Ek sal vuur slinger teen die huis van Gasael; dit sal die vestings van Ben-Hadad verteer.
5 Ek sal die sluitbalk van Damaskus breek; Ek sal die een wat op die troon sit, met geweld uit Bikat-Awen verwyder, die septerdraer uit Bet-Eden; en die volk van Aram sal na Kir in ballingskap gaan.” Dit het die Here gesê.
6 So sê die Here: “Oor drie oortredings van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle 'n hele gemeenskap weggevoer het as ballinge om hulle aan Edom oor te lewer.
7 Ek sal vuur slinger teen die stadsmuur van Gasa; dit sal sy vestings verteer.
8 Ek sal die een wat op die troon sit, met geweld uit Asdod verwyder, die septerdraer uit Askelon. Ek sal my hand teen Ekron draai, en dié wat oorgebly het van die Filistyne sal omkom.” Dit het my Heer, die Here, gesê.
9 So sê die Here: “Oor drie oortredings van Tirus, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle 'n hele gemeenskap as ballinge oorgelewer het aan Edom, en nie die verbond tussen broers in ag geneem het nie.
10 Ek sal vuur slinger teen die stadsmuur van Tirus; dit sal sy vestings verteer.”
11 So sê die Here: “Oor drie oortredings van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het. Hy het sy meegevoel onderdruk, en in sy toorn het hy sonder ophou verskeur; hy het onverpoos met sy gramskap volgehou.
12 Ek sal vuur slinger teen Teman; dit sal die vestings in Bosra verteer.”
13 So sê die Here: “Oor drie oortredings van die Ammoniete, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle swanger vroue van Gilead oopgekloof het sodat hulle hulle grondgebied kon uitbrei.
14 Ek steek 'n vuur aan in die stadsmuur van Rabba; dit sal sy vestings verteer te midde van strydkrete op die dag van oorlog, in 'n orkaan op die dag van stormwind.
15 Hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy •hoë amptenare saam met hom.” Dit het die Here gesê.