Jeremiah 48
1 Oor Moab. So sê die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Wee Nebo, want dit word verwoes. Kirjatajim staan beskaamd, dit word ingeneem. Die toevlugsoord staan beskaamd, is verslae.
2 Daar is geen lofprysing meer vir Moab nie; in Hesbon word onheil teen haar beplan; ‘Kom ons roei haar uit onder die nasies!’ Ook jy, Madmen, sal stilgemaak word; die swaard is agter jou aan!
3 Daar klink 'n noodroep uit Goronajim, ‘Verwoesting en totale ineenstorting!’
4 Moab is verpletter; sy geringes laat 'n noodroep hoor.
5 Ja, die opdraande na Lugit – met 'n gehuil, met 'n gehuil, gaan hulle daar op. Ja, teen die afdraande na Goronajim word angskrete oor die vernietiging gehoor.
6 Vlug! Ontkom net met julle lewens! Word soos 'n jenewerstruik in die woestyn!
7 Aangesien jy jou vertroue stel op jou dade, en op jou voorrade, sal ook jy ingeneem word. En Kemos sal in ballingskap uitgaan, en sy priesters en bevelvoerders saam met hom.
8 Die verwoester kom na elke dorp, en geen dorp sal vrykom nie. Die vallei sal ten gronde gaan, die plato sal verwoes word,” is wat die Here gesê het.
9 Rig 'n gedenkteken op vir Moab, want hy raak heeltemal vervalle; sy dorpe word 'n woesteny, sonder iemand wat daarin woon.
10 Vervloek is hy wat die Here se werk met laksheid doen, en vervloek is hy wat sy swaard weerhou van bloed.
11 Moab is rustig van sy jeug af; hy is soos wyn, ongestoord op sy droesem, hy is nie oorgeskink van kruik tot kruik nie – in ballingskap het hy nie gegaan nie. Daarom behou hy sy smaak, en sy geur verander nie.
12 Daarom, “kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die Here, “dat Ek keldermeesters na hom sal stuur, en hulle sal hom afgiet. Sy kruike sal hulle leegmaak, en sy houers verbrysel.
13 Moab sal beskaamd staan oor Kemos, net soos die huis van Israel beskaamd gestaan het oor Bet-El, die bron van hulle vertroue.
14 Hoe kan julle sê, ‘Ons is helde, bekwame manne, as dit kom by oorlogvoering?’
15 Moab is verwoes, die vyand het opgetrek teen sy dorpe, en die keur van sy jong manne het afgegaan vir die slagting,” is die uitspraak van die Koning; Here, Heerser oor alle magte is sy Naam.
16 Die teenspoed van Moab kom nader; sy onheil is baie vinnig op pad.
17 Betuig meegevoel met hom, almal in sy omgewing, almal wat sy naam ken! Sê, ‘Hoe is die magtige septer verbreek, die pragtige staf!’
18 “Klim af van die eresetel, en gaan sit op die dor aarde, inwoner, dogter van Dibon! Want die verwoester van Moab trek teen jou op; hy vernietig jou versterkte stede.
19 Gaan staan langs die pad en kyk uit, inwoners van Aroër! Vra hom uit wat vlug, en haar wat vrykom, en sê, ‘Wat het gebeur?’
20 Moab staan beskaamd; ja, hy is verslae. Huil en roep om hulp! Maak dit bekend by die Arnon dat Moab verwoes is!
21 Die oordeel het gekom oor die land op die plato – oor Golon, Jahas, en Mefaät;
22 oor Dibon, Nebo, en Bet-Diblatajim;
23 oor Kirjatajim, Bet-Gamul, en Bet-Meon;
24 oor Kerijot en Bosra; oor al die dorpe van die land Moab, dié wat ver is en dié wat naby is.
25 Die horing van Moab is afgekap, sy voorarm is gebreek,” is die uitspraak van die Here.
26 “ Maak hom dronk, want teenoor die Here het hy hom groot gehou. Laat Moab rol in sy braaksel, sodat ook hy uitgelag word.
27 Of is Israel nie deur jou uitgelag nie? Of is hy tussen diewe betrap, dat jy, so dikwels as jy oor hom praat, meewarig die kop skud?
28 Verlaat die dorpe, gaan woon in die rotsklowe, inwoners van Moab! Word soos 'n duif wat nesmaak in die wande van 'n ravyn.
29 Ons het gehoor van die trots van Moab, van die groot vermetelheid, sy hoogmoed, sy trots, sy grootdoenerigheid en sy hooghartigheid.
30 Ek self ken sy woedebuie, maar dit is blote skyn. Sy grootpratery rig niks uit nie,” is die uitspraak van die Here.
31 Daarom – oor Moab huil ek, namens die hele Moab roep ek om hulp. Oor die mense van Kir-Geres kla hulle.
32 Meer as oor Jaser, huil ek oor jou, wingerd van Sibma. Jou ranke het die see oorgesteek; tot by Jaser het dit gestrek. Op jou somervrugte en jou druiweoes het die verwoester toegesak.
33 “Vreugde en gejuig is weggeneem uit die vrugteboorde en uit die land van Moab. Aan wyn uit die parskuipe het Ek 'n einde gemaak. Die druiwetrappers trap nie. Die krete is nie vreugdekrete nie.
34 Die hulpgeroep strek vanaf Gesbon tot by Elale; tot by Jahas laat hulle hulle stemme hoor, van Soar af tot by Goronajim en Eglat-Selisija. Ja, ook die waters by Nimrim word 'n afgryslike plek.
35 Ek maak 'n einde aan Moab,” is die uitspraak van die Here, “aan hulle wat rook laat opstyg op die offerhoogtes, wat offers verbrand vir hulle gode.
36 Daarom, oor Moab kla my hart soos fluite, soos fluite kla my hart oor die mense van Kir-Geres. So is die wins wat hulle gemaak het, daarmee heen.
37 Ja, elke kop is kaalgeskeer, en elke baard is afgeskeer. Op alle hande is snymerke, en om die heupe rouklere.
38 Op al die dakke van Moab en op sy dorpspleine is daar net roubeklag. Want Ek het Moab gebreek soos 'n kruik wat niemand meer wil hê nie,” is die uitspraak van die Here.
39 Hoe verslae is hy nie! Hulle huil. Hoe het Moab nie beskaamd sy rug gedraai nie! Moab het lagwekkend geword; hy is 'n toonbeeld van verskrikking vir almal rondom hom.
40 Want so sê die Here: “Kyk, soos 'n arend vlieg hy; hy sprei sy vlerke uit oor Moab.
41 Keriot is ingeneem, die bergvestings is verower; die helde van Moab se harte is op daardie dag soos die hart van 'n vrou in barensnood.
42 Moab word uitgedelg, sodat dit geen volk meer is nie; want teenoor die Here het hy hom groot gehou.
43 Verskrikking, 'n vanggat, 'n vangnet wag op julle, inwoners van Moab,” is die uitspraak van die Here.
44 “Wie vlug vir die geluid van verskrikking, val in die vanggat; wie uitklim uit die vanggat, word gevang in die vangnet. Ja, Ek bring hierdie dinge oor Moab – die jaar waarin daar van hulle rekenskap geëis word, ” is die uitspraak van die Here.
45 “ In die skaduwees van Gesbon staan vlugtelinge kragteloos, want 'n vuur het uitgegaan uit Gesbon, 'n vlam uit die huis van Sihon. Dit het die slape van Moab verteer, die skedel van die rumoermakers.
46 Wee jou, Moab! Die volk van Kemos is tot niet. Ja, jou seuns is weggeneem in gevangenskap, jou dogters in ballingskap.
47 Maar Ek sal die lot van Moab verander aan die einde van die dae, ” is die uitspraak van die Here. Tot hiertoe die oordeel oor Moab.