Bible

Focus

On Your Ministry and Not Your Media

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Jeremiah 46

:
Afrikaans - AFR20
1 Die woord van die Here wat tot Jeremia, die profeet, gekom het oor die nasies.
2 Oor Egipte. Oor die leër van farao Neko, koning van Egipte, wat by die Eufraatrivier, by Karkemis was, en wat verslaan is deur Nebukadresar, die koning van Babilonië, in die vierde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda.
3 Kry die klein- en grootskilde gereed, gaan nader vir die geveg!
4 Span die perde in, en ruiters, klim op! Neem plek in met die helms, vryf die steekspiese blink, trek die harnasse aan!
5 Waarom sien Ek hulle is verskrik? Hulle val terug, hulle helde word verpletter, hulle slaan op die vlug, hulle draai nie terug nie! Daar is verskrikking aan alle kante,” is die uitspraak van die Here.
6 “Die vinniges kan nie wegkom nie, die helde kan nie vrykom nie. In die Noorde, langs die Eufraatrivier, het hulle gestruikel en geval.
7 Wie is dit wat styg soos die Nyl, soos wanneer die deltastrome sy waters donderend laat afkom?
8 Egipte styg op soos die Nyl, soos wanneer die deltastrome water donderend laat afkom. Hy sê, ‘Ek sal styg, ek sal die aarde oordek; ek wil stede en die inwoners daarin tot niet maak.’
9 Trek op, perde! Jaag soos besetenes, strydwaens! Die helde moet optrek: Kus en Put, wat skilde dra, manne van Lud, wat die boog span.
10 Hierdie dag behoort aan my Heer, die Here, Heerser oor alle magte 'n dag van wraak om Hom te wreek op sy teenstanders. Die swaard sal verslind en versadig wees, hom vol drink aan hulle bloed. Ja, 'n offerfees is daar vir my Heer, die Here, Heerser oor alle magte, in 'n land in die noorde by die Eufraatrivier.
11 Gaan op na Gilead en kry balsem, jongvrou, dogter van Egipte! Tevergeefs dat jy die medisyne meer maak; daar is geen herstel vir jou nie.
12 Die nasies hoor van jou skande, jou gejammer vul die aarde; want helde struikel oor mekaar, al twee val saam.”
13 Dit is die woord wat die Here gesê het vir die profeet Jeremia, oor die koms van Nebukadresar, die koning van Babilonië, om Egipteland aan te val:
14 Maak dit bekend in Egipte, laat dit hoor in Migdol! Ja, laat dit hoor in Nof en Tagpanhes! Julle moet sê, ‘Neem jou plek in en wees voorbereid, want rondom jou verslind die swaard!’
15 Waarom is jou magtiges weggevee? Hulle bly nie staan nie, want die Here het hulle omgestoot.
16 Hy laat baie struikel, die een val selfs oor die ander. Hulle sê, ‘Staan op! Laat ons teruggaan na ons volk, na ons geboorteland, weg van die gewelddadige swaard.’
17 Daar roep hulle uit, ‘Die farao, koning van Egipte, is net 'n lawaaimaker! Hy het die regte oomblik laat verbygaan.’
18 “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van die Koning, Here, Heerser oor alle magte is sy Naam, “soos Tabor bo die berge, en soos Karmel bo die see, sal die een wees wat kom.
19 Kry jou bondel gereed vir die ballingskap, inwoner, dogter van Egipte! Want Nof sal 'n woesteny word, dit sal verwoes lê, sonder inwoners.
20 “Egipte is 'n baie mooi jong koei, 'n blindevlieg uit die noorde het gekom, het gekom.
21 Selfs haar huurtroepe in haar geledere is soos vetgemaakte bulkalwers; maar ook hulle draai om, vlug saam weg. Hulle bly nie staan nie; want die dag van hulle teenspoed het vir hulle aangebreek, die tyd wanneer met hulle afgereken word.
22 Sy klink soos 'n slang wat wegseil, want met 'n leërmag ruk hulle op; met byle kom hulle na haar soos dié wat hout bymekaarmaak.
23 Hulle kap haar bos af, al is dit ondeurdringbaar,” is die uitspraak van die Here; “want hulle is meer as sprinkane, ontelbaar is hulle.
24 Die dogter van Egipte staan beskaamd, sy is oorgegee in die hand van 'n volk uit die noorde.”
25 Die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel, het gesê: “Kyk, Ek gaan rekenskap eis van Amon uit No, van die farao, van Egipte, van haar gode, van haar konings ja, van die farao en hulle wat op hom vertrou.
26 Ek sal hulle oorgee in die hand van dié wat hulle lewens soek: in die hand van Nebukadresar, die koning van Babilonië, en in die hand van sy dienaars. Daarna sal Egipte bewoon word soos in die verre verlede.” Dit is die uitspraak van die Here.
27 Maar jy, jy moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob! Moet jou nie laat afskrik nie, Israel! Want kyk, Ek gaan jou verlos uit 'n ver plek, jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap. Jakob sal terugkeer; hy sal stil en rustig wees, en niemand sal hom opjaag nie.
28 Jy, ja jy, moenie bang wees nie, my dienskneg Jakob!” is die uitspraak van die Here, “want Ek is by jou. Ja, Ek sal 'n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verdryf het; net aan jou sal Ek geen einde maak nie. Ek sal jou matig straf, maar jou beslis nie ongestraf laat nie.”