Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Jeremiah 25

:
Afrikaans - AFR20
1 Dit is die woord wat tot Jeremia gekom het oor die hele volk van Juda, in die vierde regeringsjaar van Jojakim, seun van Josia, koning van Juda. Dit was in die eerste regeringsjaar van Nebukadresar, koning van Babilonië,
2 dat die profeet Jeremia met die hele volk van Juda en al die inwoners van Jerusalem gepraat het:
3 Vanaf die dertiende regeringsjaar van Josia, seun van Amon, koning van Juda, tot op hierdie dag, drie-en-twintig jaar lank, het die woord van die Here tot my gekom. Ek het aanhoudend met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie.
4 Die Here het al sy dienaars, die profete, aanhoudend na julle gestuur, maar julle het nie geluister nie. Julle het nie julle ore oopgemaak om te luister nie.
5 Die boodskap was, ‘Draai tog om, elkeen weg van sy verkeerde pad, weg van julle bose dade, sodat julle kan bly woon op die grond wat die Here van altyd af en vir altyd aan julle en julle voorouers gegee het.
6 Moenie agter ander gode aanloop om hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig nie! Moet My nie tart met julle handewerk nie, sodat Ek julle nie kwaad aandoen nie.
7 Maar julle het nie na My geluister nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘sodat julle My getart het met julle handewerk, tot julle eie nadeel.’
8 Daarom, so die Here, Heerser oor alle magte, ‘Omdat julle nie na my woorde geluister het nie
9 kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die noorde ontbied,’ is die uitspraak van die Here, ‘ook Nebukadresar, koning van Babilonië, my dienskneg, en Ek sal hulle bring na hierdie land en sy inwoners, en na al die omliggende nasies. Ek sal hulle met die banvloek tref, en hulle 'n skrikbeeld maak, die rede vir 'n gefluit, en puinhope vir altyd.
10 Ek sal by hulle die klank van vrolikheid en vreugde laat verdwyn, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geskuur van maalklippe en die lig van lampe.
11 Hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babilonië sewentig jaar lank dien.
12 ‘Maar as die sewentig jaar verby is,’ is die uitspraak van die Here, ‘sal Ek oor hulle sondeskuld rekenskap eis van die koning van Babilonië en van daardie nasie, en van die land van die Galdeërs. Ek sal dit vir altyd woestenye maak.
13 Ek sal oor hierdie land al my woorde wat Ek daaroor uitgespreek het, in vervulling laat gaan.’ Dit verwys na alles wat geskryf staan in hierdie •boekrol, en wat Jeremia geprofeteer het oor al die nasies.
14 ‘Ja, ook die Galdeërs sal slawe wees van baie nasies en groot konings. Ek sal hulle vergeld ooreenkomstig hulle dade en hulle handewerk.’
15 Ja, so het die Here, die God van Israel, vir my gesê, ‘Neem hierdie beker met die wyn van woede uit my hand en laat al die nasies na wie Ek jou sal stuur, daaruit drink.
16 Hulle sal drink en slinger en waansinnig raak, vanweë die swaard wat Ek onder hulle gaan instuur.’
17 Ek het toe die beker uit die hand van die Here geneem, en al die nasies na wie die Here my gestuur het, laat drink:
18 Jerusalem en die stede van Juda, haar konings en •hoë amptenare om daarvan 'n puinhoop, 'n skrikbeeld, die rede vir 'n gefluit en 'n vervloeking te maak, soos dit vandag is;
19 die farao, koning van Egipte, sy dienaars, sy hoë amptenare, sy hele volk
20 en die hele gemengde bevolking; al die konings van die land Us; al die konings van die land van die Filistyne Askelon, Gasa en Ekron, en dié wat oorgebly het in Asdod;
21 Edom, Moab en die Ammoniete;
22 al die konings van Tirus; al die konings van Sidon; die konings van die kuslande oorkant die see;
23 Dedan, Tema en Bus almal wat die slape skoonskeer,
24 al die konings van Arabië; al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon;
25 al die konings van Simri; al die konings van Elam en al die konings van Medië;
26 al die konings van die noorde, dié wat naby en dié wat ver van mekaar af is. Ja, dit geld vir al die koninkryke van die wêreld oor die hele oppervlakte van die aarde. Die koning van Sjesjag sal hulle drink.
27 “Jy moet vir hulle sê, ‘So die Here, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Drink, word dronk, bring op, val neer sodat julle nie weer opstaan nie, vanweë die swaard wat Ek onder julle instuur.”
28 Maar as hulle weier om die beker uit jou hand te neem en te drink, moet jy vir hulle sê, ‘So die Here, Heerser oor alle magte: “Julle móét drink!
29 Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met die onheil sal julle dan enigsins vryspring? Julle sal nie vryspring nie, want Ek gaan 'n swaard oproep teen al die inwoners van die aarde,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.
30 “En jy, jy moet al hierdie woorde teen hulle profeteer. Jy moet vir hulle sê, ‘Die Here, uit die hoogte sal Hy brul, uit sy heilige woning sal Hy sy stem laat hoor. Hy brul geweldig teen sy blyplek. 'n Kreet soos van druiwetrappers hef Hy aan teen al die bewoners van die aarde.
31 Krygsgeskreeu galm tot aan die einde van die aarde, want die Here kla die nasies aan, die vonnis geld alle mense; goddeloses gee Hy oor aan die swaard,’ is die uitspraak van die Here.
32 ‘So die Here, Heerser oor alle magte: “Kyk, rampe tref nasie nasie; 'n groot storm steek op aan die uithoeke van die aarde.”
33 En dié wat deur die Here verslaan is, sal op daardie dag van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde lê. Oor hulle sal nie gerou word nie, en hulle sal nie bymekaargemaak of begrawe word nie. Hulle sal mis word op die grond.
34 “Huil, herders, en roep om hulp! Rol in die as, maghebbers oor die kleinvee! Want vir julle het die dae aangebreek om geslag te word. Ek sal julle stukkend slaan, en julle sal val soos 'n kosbare houer.”
35 'n Toevlugsoord sal vir die herders verlore wees, ook 'n uitkomkans vir die maghebbers oor die kleinvee.
36 Hoor die geroep om hulp van die herders, die gehuil van die maghebbers oor die kleinvee, want die Here verwoes hulle weivelde.
37 Die vreedsame weivelde word vernietig vanweë die brandende toorn van die Here.
38 Soos 'n jong leeu het Hy sy lêplek verlaat; want hulle land het 'n woesteny geword vanweë die gewelddadige swaard, ja, vanweë sy brandende toorn.