Jeremiah 18AFR20

1Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het:

2“Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.”

3Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak.

4Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe 'n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak.

5Toe het die woord van die Here tot my gekom:

6“Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel.

7Een keer dreig Ek om 'n nasie en 'n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan.

8Maar as daardie nasie teen wie Ek die bedreiging uitgespreek het, hom bekeer van sy boosheid, sal Ek jammer wees oor die onheil wat Ek beplan het om hom aan te doen.

9'n Ander keer sê Ek oor 'n nasie en 'n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant.

10Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen.

11Sê dan nou tog vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek maak onheil gereed vir julle, en beraam planne teen julle. Draai tog terug, elkeen van sy verkeerde pad, en laat julle doen en late goed wees.” ’

12Maar hulle sal sê, ‘Tevergeefs! Want ons eie planne wil ons volg, en elkeen van ons wil volgens die verstoktheid van sy eie bose hart optree.’ ”

13“ ‘ “Daarom,” so sê die Here, “Doen maar navraag by die nasies: Wie het van so iets gehoor? Die jongvrou Israel het 'n vreeslik afskuwelike ding gedoen.

14Verdwyn sneeu ooit van die rotsagtige hange van die Libanon? Of raak die vreemde koel water wat vloei ooit gedaan?

15Tog het my volk My vergeet en vir nuttelose afgode offers verbrand. Dié het hulle laat struikel op hulle paaie, op die ou roetes, sodat hulle op weë gegaan het wat nie opgevul is nie,

16om so hulle land 'n skrikbeeld, die rede vir 'n ewige gefluit te maak. Elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en sy kop skud.

17Soos 'n oostewind sal Ek hulle verstrooi voor vyande. Met die nek en nie met die gesig nie, sal Ek hulle aankyk op die dag van hulle teenspoed.” ’ ”

18Toe sê hulle: “Kom, laat ons planne beraam teen Jeremia, want onderrig deur priesters, raad van wyses en openbarings deur profete sal nie verlore wees nie. Kom ons val hom aan met die tong, sodat ons nie verder aandag aan sy woorde hoef te gee nie. ”

19Slaan ag op my, Here! Hoor wat sê my aanklaers!

20Moet goed dan met kwaad vergeld word? Want hulle het vir my 'n vangkuil gegrawe. Onthou dat ek voor U gestaan het om vir hulle 'n goeie woord te doen, om u woede van hulle af te keer.

21Daarom, gee hulle kinders oor aan hongersnood, lewer hulle oor aan die mag van die swaard. Laat hulle vroue kinderloos en weduwees word, en laat hulle mans slagoffers word van die pessiekte; laat hulle jongmanne in die oorlog deur die swaard verslaan word.

22Laat daar 'n geskreeu om hulp gehoor word uit hulle huise wanneer U onverwags troepe op hulle afstuur. Hulle het immers 'n vangkuil gegrawe om my te vang, en in die geheim vangnette vir my voete gestel.

23Maar U, Here, U ken hulle hele moorddadige plan teen my. Moet hulle sondeskuld nie bedek nie; hulle sondes moet U nie voor U uitwis nie. Laat hulle tot 'n val kom voor U; tree teen hulle op in die tyd van u toorn.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 18.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.