Jeremiah 17
1 “Die sonde van Juda is opgeteken met 'n ysterpen, met 'n diamantpunt; dit is ingegraveer op die tafels van hulle harte en op die horings van hulle altare.
2 Net soos hulle aan hulle kinders dink, dink hulle aan hulle altare en asjeras by skaduryke bome op die hoë heuwels.
3 My berg in die oop veld, jou rykdom, al jou skatte, sal Ek as buit gee – jou offerhoogtes in ruil vir die sonde in jou hele grondgebied.
4 Jy sal deur jou eie toedoen moet afstand doen van jou erfenis wat Ek vir jou gegee het. Ek sal jou die slaaf van jou vyande maak in 'n land wat jy nie ken nie; want 'n vuur is aangesteek in my toorn – vir altyd sal dit brand.”
5 So sê die Here: “Vervloek is die man wat op mense vertrou, wat in mense sy krag vind, maar sy hart draai van die Here weg.
6 Hy sal wees soos 'n jenewerstruik in die Araba; hy sal dit nie opmerk wanneer die goeie kom nie. Hy sal tuis wees op dor plekke in die woestyn, op brak grond waar niemand woon nie.
7 Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is.
8 Hy sal wees soos 'n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In 'n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.”
9 Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan?
10 “Ek, die Here, deursoek harte en toets niere, om elkeen te vergeld volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade.”
11 'n Patrys wat eiers uitbroei wat sy nie gelê het nie, so is iemand wat rykdom verwerf, maar nie met eerlikheid nie. Teen die helfte van sy dae verlaat dit hom; en aan sy einde sal hy 'n dwaas wees.
12 'n Roemryke troon, verhewe van die begin af, is die plek van ons heiligdom.
13 Here, die hoop van Israel, almal wat U verlaat, sal beskaamd staan. “Ja, wie van My af wegdraai, sal in grond geskryf word, omdat hulle die fontein van lewende water, die Here, verlaat het.”
14 Maak my gesond, Here, en ek sal gesond wees. Verlos my, en ek sal verlos wees, want U is my lof.
15 Kyk, hulle vra telkens vir my: “Waar bly die woord van die Here? Dit moet tog gebeur!”
16 Ek, daarenteen, het nie by U daarop aangedring om nie 'n herder vir U te wees nie; die noodlottige dag begeer ek nie. U weet self wat oor my lippe gekom het; dit was in u teenwoordigheid.
17 Moenie vir my 'n verskrikking word nie! U is my skuilplek op die dag van onheil.
18 Laat hulle wat my vervolg, beskaamd staan; maar moenie dat ek die een is wat beskaamd staan nie! Laat hulle dié wees wat vreesbevange is; maar moenie dat ek die een is wat vreesbevange is nie! Bring oor hulle die dag van onheil, en verpletter hulle met 'n dubbele slag!
19 So het die Here vir my gesê: “Gaan staan by die Volkspoort, waar die konings van Juda ingaan en uitgaan, en ook by al die poorte van Jerusalem,
20 en sê vir hulle, ‘Hoor die woord van die Here, konings van Juda, die hele Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte ingaan:
21 “So sê die Here, ‘Wees uit vrees vir julle lewens versigtig! Moenie vrag dra op die Sabbatdag en dit deur die poorte van Jerusalem inbring nie.
22 Moenie 'n vrag uit julle huise dra op die Sabbatdag nie, en moenie enige werk doen nie. Hou die Sabbatdag heilig, soos Ek julle voorouers beveel het.
23 Hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig deur nie te luister en nie vermaning te aanvaar nie.
24 As julle goed na My luister,’ is die uitspraak van die Here, ‘deur nie 'n vrag deur die poorte van hierdie stad te dra op die Sabbatdag nie, en deur die Sabbatdag heilig te hou en nie enige werk op dié dag te doen nie,
25 sal konings en bevelvoerders wat troonopvolgers van Dawid is, deur die poorte van hierdie stad ingaan – hulle wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle bevelvoerders, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem – en hierdie stad sal altyd bewoon word.
26 Hulle sal uit die dorpe van Juda kom, uit die gebiede rondom Jerusalem, uit die landstreek Benjamin, uit die Sjefela, die bergland en die Negev, terwyl hulle •brandoffers, •maaltydoffers, •graanoffers en wierook bring, terwyl hulle dank betuig in die huis van die Here.
27 Maar as julle nie na My luister om die Sabbatdag heilig te hou nie, deur vrag te dra en by die poorte van Jerusalem in te gaan op die Sabbatdag, sal Ek 'n vuur aansteek in haar poorte wat die vestings van Jerusalem sal verteer en wat nie geblus sal word nie.’ ” ’ ”