Isaiah 63
1 Wie is dit wat daar uit Edom kom, met helderrooi klere uit Bosra, Hy wat 'n glansryke bokleed dra, wat keldermeester is in die volheid van sy krag? “Ek is die Een wat in geregtigheid spreek – magtig om te verlos.”
2 Waarom is u bokleed rooi, waarom is u klere soos dié van iemand wat druiwe trap in die wynpers?
3 “ Die kuip het Ek alleen getrap; van al die volke was daar niemand by My nie. In my toorn het Ek hulle aanhou trap, hulle fyngetrap in my woede. Hulle lewensbloed het op my klere gespat; my hele uitrusting het Ek besoedel.
4 Want Ek het 'n dag van wraak in gedagte gehad; die jaar van my bloedwraak het aangebreek.
5 Ek het rondgekyk, maar daar was geen helper nie. Ek was verslae – daar was niemand wat ondersteuning bied nie. My voorarm het My tot hulp gekom, my woede, dit het My ondersteun.
6 Ek het volke vertrap in my toorn, hulle dronk gemaak in my woede. Ek het hulle lewensbloed op die grond laat uitloop.”
7 Die troue liefde van die Here sal ek vermeld, die lofwaardige dade van die Here, in ooreenstemming met alles wat die Here aan ons bewys het – die oorvloedige guns vir die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het in sy ontferming en oorvloedige troue liefde.
8 Hy het gesê: “My volk is hulle beslis, kinders wat nie bedrieglik sal optree nie.” So het Hy vir hulle 'n verlosser geword.
9 In al hulle nood was ook Hy in die nood. Die Engel van sy teenwoordigheid het hulle verlos. In sy liefde en medelye was dit Hy wat hulle vrygekoop het. Hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die jare, van lank gelede af.
10 Maar hulle, hulle was opstandig en het sy Heilige Gees bedroef. Hy het teenoor hulle in 'n vyand verander; Hy self het teen hulle geveg.
11 Toe het hulle gedink aan die jare van lank gelede, aan Moses en sy volk: “Waar is Hy wat hulle uit die see laat opkom het, saam met die herders van sy kleinvee? Waar is Hy wat in hulle midde sy Heilige Gees geplaas het,
12 wat sy roemryke arm aan Moses se regterkant laat optrek het, wat water voor hulle oopgekloof het om vir Hom 'n ewige Naam te maak,
13 Hy wat hulle deur die watermassa laat trek het, soos 'n perd deur 'n woestyn – sonder om te struikel?”
14 Soos wanneer beeste in 'n vallei afdaal, het die Gees van die Here aan Israel rus gegee. So het U u volk gelei om vir U 'n roemryke Naam te maak.
15 Kyk uit die hemel, uit u vorstelike, heilige en roemryke woning, en sien! Waar is u ywer en u magtige dade? U innerlike ontroering, u ontferming word van my teruggehou.
16 U is immers ons Vader. Ja, Abraham, hy ken ons nie, en Israel, hy erken ons nie; U, Here, is ons Vader. Ons Losser van altyd af, is u Naam!
17 Waarom het U, Here, ons van u paaie laat afdwaal, ons harte verhard, sodat ons nie meer vir U ontsag gehad het nie? Kom terug ter wille van u diensknegte, die stamme van u erfdeel!
18 Vir 'n kort tydjie het u heilige volk dit besit, maar ons teenstanders het u heiligdom vertrap.
19 Ons het van lank gelede af al geword soos hulle oor wie U nie regeer het nie, oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.