Bible

Power Up

Your Services with User-Friendly Software

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Isaiah 61

:
Afrikaans - AFR20
1 Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om 'n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is,
2 om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos,
3 om te voorsien vir hulle wat oor Sion rou, om vir hulle •tulbande te gee in plaas van stof, vreugde-olie in plaas van rou, klere vir lofprysing in plaas van 'n verslae gees. Hulle sal genoem word: terebinte van geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik.
4 Hulle sal die oeroue puinhope herbou, die verwoeste plekke van vroeër weer oprig, dorpe wat in puin lê, wat geslagte lank verwoes is, sal hulle nuut maak.
5 Vreemdes sal in julle diens wees en julle kleinvee laat wei, buitelanders sal julle plaaswerkers en julle wynbouers wees.
6 Maar julle, priesters van die Here sal julle genoem word. As dienaars van ons God sal daar na julle verwys word. Die rykdom van nasies sal julle geniet, en met hulle luister sal julle spog.
7 In plaas van julle skande word julle dubbeld vergoed. Ja, in plaas van vernedering sal hulle jubel oor hulle deel; daarom sal hulle 'n dubbele deel in hulle land in besit neem. Daar sal vir hulle ewige vreugde wees.
8 Ja, Ek, die Here, het regverdigheid lief; Ek haat roof, veral saam met onreg. “Ek sal hulle beloning aan hulle gee op grond van my trou; 'n ewige verbond sal Ek met hulle sluit.
9 Hulle nageslag sal bekend wees onder die nasies, hulle nakomelinge onder die volke. Almal wat hulle sien, sal hulle herken dat hulle die geslag is wat deur die Here geseën is.
10 Ek verheug my grootliks in die Here; my hele wese juig oor my God. Want Hy het vir my klere van verlossing aangetrek, 'n mantel van geregtigheid het Hy my omgehang, asof ek 'n bruidegom is, soos 'n priester met 'n tulband, soos 'n bruid met haar versierings.
11 Ja, soos die grond sy plante voortbring en 'n tuin sy saailinge laat uitspruit, so sal my Heer, die Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor al die nasies.