1In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op 'n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul.
2Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg.
3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.”
4Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.
5Ek het gesê: “Wee my, want ek is verlore! Want ek is 'n mens met onrein lippe, en by 'n volk met onrein lippe woon ek. Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien.”
6Een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool by hom wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het.
7Hy het my mond aangeraak en gesê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, jou sondeskuld het gewyk, daar is vir jou sonde versoening gedoen.”
8Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?” Ek sê toe: “Hier is ek, stuur my!”
9Hy het gesê: “Gaan sê vir hierdie volk, ‘Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie.’
10Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!”
11Daarop vra ek: “Tot wanneer, my Heer?” Hy het geantwoord: “Totdat die dorpe vervalle lê sonder inwoners, die huise sonder mense is, die land verval tot 'n woesteny,
12en die Here die mense ver wegdryf, en die verlatenheid in die land groot is.
13As daar nog 'n tiende in die land is, sal die land weer aan verwoesting uitgelewer wees. Tog sal by hulle 'n stomp oorbly, soos van 'n •terebintboom en 'n eikeboom wanneer hulle neergevel is. Die stomp van die land is 'n heilige geslag. ”