Isaiah 35
1 Laat die woestyn en die dor land hulle verheug, laat die Araba juig en blom soos 'n tulp.
2 Laat dit welig blom en juig, ja, met 'n gejuig en 'n gejubel. Die heerlikheid van die Libanon word daaraan gegee, die glansrykheid van Karmel en Saron. Hulle sal die heerlikheid van die Here, die glansrykheid van ons God, sien.
3 Maak die slap hande sterk, versterk die wankelende knieë.
4 Sê vir dié wat angstig is: “Hou moed, moenie bang wees nie! Kyk, hier is julle God; die wraak kom, die vergelding deur julle God. Hy is die Een wat sal kom en julle verlos.”
5 Dan sal die oë van blindes oopgaan, en die ore van dowes sal oopgaan.
6 Dan sal 'n verlamde spring soos 'n wildsbok, en die tong van 'n stomme sal jubel; want in die woestyn sal water uitbars, strome water in die Araba.
7 Die uitgedorde grond sal 'n vleiland word, 'n dorsland vol waterbronne. Op die lêplek van jakkalse, waar hulle gaan lê het, sal daar gras met kalmoesriet en papirus wees.
8 Daar sal 'n gebaande weg, 'n pad wees; Die heilige pad sal dit genoem word. Onreines sal nie daarop verbygaan nie; maar dit sal vir dié wees wat op die pad hou. Sotte sal nie daar ronddwaal nie.
9 Daar sal geen leeus wees nie, en roofdiere sal nie daar kom nie; hulle sal nie daar aangetref word nie. Dié wat losgekoop is, sal daarlangs gaan;
10 dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met jubelkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en 'n gesug sal wegvlug.