1Kom nader, nasies, om te hoor, volke, gee aandag! Die aarde en alles daarop moet hoor, die wêreld en alles wat daaruit voortkom.
2Want die grimmigheid van die Here is teen al die nasies gerig, sy woede teen al hulle leërs. Hy sal hulle met die banvloek tref, hulle vir 'n slagting oorlewer.
3Hulle gesneuweldes sal weggegooi word, en hulle lyke – die stank daarvan sal opstyg. Die berge sal deurweek wees van hulle bloed.
4Al die hemelliggame sal wegsmelt, en soos 'n boekrol sal die hemel opgerol word. Al die hemelliggame sal verskrompel soos die blare van 'n wingerdstok verskrompel, soos verskrompelde vrugte aan 'n vyeboom.
5“Ja, my swaard het genoeg te drinke gehad in die hemelruim. Kyk, op Edom gaan dit neerkom, op die volk vir wie my banvloek gaan tref om die oordeel te voltrek. ”
6Die Here het 'n swaard – vol bloed is dit, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokramme, van die niervet van ramme; want daar is 'n offerfees vir die Here in Bosra, 'n groot slagting in die land van Edom.
7Buffels sak neer saam met hulle, bulle saam met die sterkes. Hulle grond sal hom vol drink aan bloed, hulle stof sal versadig wees van vet.
8Ja, daar is 'n dag van wraak vir die Here, 'n jaar van vergelding in die regstryd van Sion.
9Edom se strome sal in pik verander, haar stof in swael – haar gebied sal brandende pik word.
10Nag en dag sal dit nie geblus word nie, vir altyd styg haar rook omhoog. Van geslag tot geslag sal sy in puin lê, vir ewig en altyd sal niemand deur haar trek nie.
11Bontkraaie en kortooruile sal haar in besit neem; grasuile en swartkraaie sal in haar woon. Hy lê die maatlyn van verlatenheid oor haar aan, die weegstene van leegheid.
12Haar hoëlui – daar sal niks wees wat hulle 'n koninkryk kan noem nie; al haar •hoë amptenare sal niks wees nie.
13In haar vestings sal dorings opkom – brandnetels en sydissels in haar versterkte stad. Dit sal 'n lêplek vir jakkalse wees, 'n blyplek vir steenuile.
14Woestyndiere sal hiënas daar raakloop, •veldgode sal na mekaar roep. Ja, Lilit sal daar draal en vir haar 'n rusplek vind.
15Daar sal 'n uil nesmaak en eiers lê, daarop broei, en dit in haar skaduwee uitbroei. Ja, daar sal jakkalsvoëls saamkom, elkeen by haar maat.
16Gaan dit na in die boekrol van die Here, en lees: Nie een van hulle ontbreek nie, nie een sal haar maat mis nie; want die mond van die Here het dit beveel, en sy Gees, Hy maak hulle bymekaar.
17Hy is die Een wat vir hulle die lot gewerp het, en sy hand het die land met die meetsnoer aan hulle toegedeel. Vir altyd sal hulle dit in besit neem, en van geslag tot geslag sal hulle daarin woon.