1Ja, kyk, die Here, die Heer, Heerser oor alle magte, gaan uit Jerusalem en Juda elke stut en steun verwyder: alle steun op brood, en alle steun op water,
2op helde en krygsmanne, regters en profete, voorspellers en oudstes,
3op •aanvoerders van vyftig en manne van aansien, raadgewers, ervare towenaars en kundige besweerders.
4Die Here sê: “Ek maak jong manne hulle bevelvoerders; kwaadwilliges sal oor hulle heers.
5Die mense sal mekaar vertrap – die een die ander, elkeen sy medemens. 'n Jong man sal 'n ou man aanval, en 'n nikswerd 'n geëerde.
6As 'n man sy familielid vasgryp in die huis van sy vader en sê, ‘Jy het 'n oorkleed, jy moet ons •gesagvoerder wees; hierdie puinhoop sal onder jou beheer wees,’
7sal hy op daardie dag teenstribbel en sê, ‘Ek is nie 'n geneser nie, en in my huis is geen brood en geen oorkleed nie. Julle mag my nie aanstel as gesagvoerder oor mense nie.’
8Want Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval. Hulle tonge en hulle dade was teen die Here gerig, om sy blik, wat eerbied inboesem, uit te daag.
9Hulle vooroordeel getuig teen hulle; en hulle sonde – soos Sodom maak hulle dit bekend, en steek dit nie weg nie. Wee hulle! Want hulle doen hulleself kwaad aan.
10“ Sê vir die regverdiges dat dit goed sal gaan, want die vrug van hulle dade sal hulle geniet.
11Wee die goddeloses! Dit sal sleg gaan; want wat hulle hande aangerig het, sal aan hulle gedoen word.
12My volk – sy verdrukkers is geweldenaars, skuldeisers heers oor hulle. My volk, jou leiers lei jou op 'n dwaalweg; oor die rigting van jou paaie is hulle in die war.”
13Die Here het sy plek ingeneem vir die hofstryd; Hy staan gereed om mense te oordeel.
14Die Here kom met 'n klag teen die oudstes van sy volk en teen hulle aanvoerders: “Julle het self die wingerd afgewei. Wat geroof is van die magtelose, is in julle huise.
15Wat gaan met julle aan? Julle vertrap my volk, julle vergruis die gesigte van magteloses.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here, Heerser oor alle magte.
16Die Here sê: “Omdat die vroue van Sion hovaardig is, met uitgestrekte nek rondloop, en met verleidelike oë al trippelend wegstap, met ringe wat klingel aan hulle enkels,
17sal my Heer die vroue van Sion se skedels met skurfte aantas; die Here sal hulle voorhoofde ontbloot. ”
18Op daardie dag sal my Heer die versierings wegneem: die enkelringe, sonnetjies en halfmaantjies,
19die oorbelle, armbande en sluiers,
20die kopbande, enkelkettings en lyfserpe, die reukflesse, amulette,
21ringe en neusringe,
22die feesklere, mantels, skouermantels en handsakkies,
23die deurskynende klere, linnehemde, •tulbande en sjaals.
24In plaas van die geur van speserye sal daar stank wees, in plaas van 'n gordel 'n tou, in plaas van haarlokke 'n kaal kop, in plaas van deftige klere, 'n roukleed, in plaas van skoonheid 'n brandmerk.
25Jou manne, Sion – deur die swaard sal hulle val, jou sterk manne in die oorlog.
26Sion se ingange sal weeklaag en treur, kaalgestroop van mense, sal sy op die grond sit.