1“Efraim het My omring met leuens, en die huis van Israel met bedrog. Juda is steeds bandeloos teenoor God, maar teenoor die heiliges is hy getrou.
2Efraim pas die wind op, hy loop heeldag agter die oostewind aan. Al wat hy vermeerder, is leuens en verwoesting. Met Assirië sluit hulle 'n verdrag, maar olie word na Egipte gestuur.”
3Die Here het 'n regsaak teen Juda, en Hy gaan Jakob tot verantwoording roep oor sy optrede; Hy gaan hom vergeld volgens sy dade.
4In die moederskoot het hy al sy broer aan die hakskeen vasgehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.
5Hy het met die Engel geworstel en het oorwin; want hy het gehuil en Hom om genade gesmeek: “By Bet-El sal Hy hom ontmoet, daar sal Hy met ons praat.
6Die Here, die God van alle magte, Here is sy gedenknaam.”
7Maar jy, na jou God moet jy terugkeer. Lê jou toe op troue liefde en wat reg is, en wag altyddeur op jou God.
8“ Kanaän – in sy hand is daar 'n vals weegskaal; hy hou daarvan om uit te buit.
9Efraim sê, ‘Ja, ek het ryk geword; ek het self welvarend geword. Alles wat ek met moeite verkry het – niks kan gevind word wat as sondeskuld teen my gehou word, wat as 'n oortreding geld nie.’
10Maar Ek is die Here jou God – al van Egipteland af. Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die feestyd.
11Ek het met die profete gepraat; Ek het dit deur baie visioene gedoen, en deur profete tref Ek vergelykings.
12Is Gilead boos? Hulle het heeltemal tot niet gegaan. In Gilgal het Efraim selfs bulle geoffer; ook hulle altare sal kliphope word in die slote in die veld.
13Jakob het gevlug na die veld van Aram; Israel moes dienswerk doen om 'n vrou te verkry; ja, om 'n vrou te verkry, moes hy kleinvee oppas.
14Deur 'n profeet het die Here Israel uit Egipte laat optrek; ja, deur 'n profeet is hulle opgepas.”
15Efraim het uiters beledigend opgetree. Sy Heer hou hom verantwoordelik vir sy bloedskuld; Hy sal hom vergeld vir sy uittarting.