1Die profesie. Dit is wat Habakuk, die profeet, gesien het.
2Hoe lank nog, Here? Ek roep om hulp, maar U luister nie; ek roep uit na U, “geweld!” maar U verlos nie?
3Waarom laat U my onreg ervaar, en leed, terwyl U toekyk? Vernietiging en geweld is reg voor my. Twis ontstaan en rusie neem toe.
4Daarom het die wet sy krag verloor, en tree die reg glad nie meer na vore nie; maar goddeloses omsingel die regverdige. Daarom is die reg so verdraaid.
5“ Kyk na die nasies en let op; wees verslae, verstom; want daar gaan iets in julle dae gebeur; julle sal dit nie glo as dit vertel word nie!
6Ja, kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek – die verbitterde en voortvarende nasie – wat oor die breedte van die aarde gaan om woonplekke in besit te neem wat nie aan hulle behoort nie.
7Skrikwekkend, vreesaanjaend is hierdie nasie; van homself gaan sy reg en oppermag uit.
8Vinniger as luiperds is sy perde, ratser as wolwe in die skemer. Sy ruiters kom aangejaag, sy ruiters wat van ver af kom. Hulle vlieg soos arende wat afduik om te vreet.
9Elkeen is uit op geweld; hulle hele voorhoede is 'n oostewind; dit maak krygsgevangenes bymekaar soos sand.
10Hierdie nasie dryf met konings die spot, en regeerders is vir hom 'n grap. Vir elke versterkte stad lag hy; hy hoop grond teen die stadsmuur op, en neem dit in.
11Dan gaan die wind verder en steek grense oor; en hy word skuldig, die een wie se krag sy god is.”
12Bestaan U dan nie van altyd af nie, Here, my God, my Heilige? Ons gaan tog nie sterf nie? Here, het U hom bestem as oordeel? O Rots, het U hom beskik as teregwysing?
13U wie se oë te rein is om boosheid te aanskou, wat nie kan toekyk waar daar leed is nie – waarom kyk U toe as mense verraderlik optree; waarom swyg U wanneer goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle?
14U maak mense soos visse van die see, soos krioelende seediere wat nie 'n heerser het nie.
15Met sy hoek trek hy hulle almal uit; hy sleep hulle uit in sy skepnet en versamel hulle in sy fuik. Daarom is hy bly en juig;
16daarom offer hy vir sy skepnet en brand hy reukwerk vir sy fuik; want danksy sy nette is sy deel van die buit vet en is sy maaltyd ryk.
17Sal hy sy skepnet so bly uitskud en aanhou om nasies genadeloos uit te moor?