Ezekiel 27AFR20

1Die woord van die Here het tot my gekom:

2“Jy, mensekind, hef oor Tirus 'n klaaglied aan;

3sê vir Tirus, die stad wat lê by die poorte na die see, wat handel dryf met ander volke, met baie eilande, ‘So sê my Heer, die Here: “Tirus, jy sê, ‘Ek is volmaak in skoonheid.’

4In die hart van die seë lê jou gebied; jou bouers het jou skoonheid vervolmaak.

5Met sipreshout uit Senir het hulle albei jou sykante gebou. 'n Seder uit die Libanon het hulle geneem om vir jou 'n mas te maak.

6Met eikebome uit Basan het hulle jou roeispane gemaak. Jou dek het hulle ivoorkleurig gemaak met dennehout uit die eilande van die Kittiërs.

7Van veelkleurige fyn linne uit Egipte was jou seil, om vir jou te dien as vaandel. Pers en purperrooi materiaal uit die eilande van Elisa was jou kajuitbedekking.

8Inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers, Jou ervare manne, Tirus, was aan boord, hulle was jou seemanne.

9Veterane van Gebal en sy ervare manne was aan boord om jou lekplekke te kalfater. “ ‘ “Al die skepe op see en hulle matrose was in jou hawe om van jou ruilware te bekom.

10Persië, Lud en Put was in jou leër as krygsmanne. Skild en helm het hulle in jou opgehang; dit is hulle wat aan jou luister verleen het.

11Manne uit Arwad en Gelek was rondom op jou mure, en manne uit Gammad – in jou torings was hulle. Hulle het hulle rondeskilde rondom teen jou mure opgehang; dit is hulle wat jou skoonheid vervolmaak het.

12Tarsis het met jou handel gedryf vanweë die oorvloed van al die rykdom. Met silwer, yster, tin en lood het hulle betaal vir jou handelsware.

13Jawan, Tubal en Meseg, hulle was jou handelaars. Met lewende mense en koperware het hulle betaal vir jou ruilware.

14Uit Bet-Togarma was daar perde, trekperde en muile; hulle het dit vir jou handelsware aangebied.

15Die mense van Dedan was jou handelaars; baie eilande was jou handelsvennote. Olifanttande en ebbehout het hulle teruggebring as skatplig aan jou.

16Edom het met jou handel gedryf vanweë die oorvloed goedere wat jy vervaardig. Met •malagiet, purperrooi en veelkleurig geweefde materiaal, fyn linne, pêrels en •chalcedoon het hulle vir jou handelsware betaal.

17Juda en die land Israel, hulle was jou handelaars. Met koring uit Minnit, vye, heuning, olyfolie en balsemgom het hulle betaal vir jou ruilware.

18Damaskus het met jou handel gedryf vanweë die oorvloed goedere wat jy vervaardig, die oorvloed van al jou rykdom. Met wyn uit Gelbon, wol uit Sagar

19en wyn uit Usal het hulle vir jou handelsware betaal. Bewerkte yster, kassia en kalmoes was onder jou ruilware.

20Dedan het met jou handel gedryf in saalkleedjies vir rydiere.

21Arabië en al die leiers van Kedar, hulle was jou handelsvennote. Met ramlammers, skaap- en bokramme, daarmee het hulle met jou handel gedryf.

22Die handelaars van Skeba en Rama, hulle was jou handelaars. Met die keur van allerlei speserye, allerlei edelstene en goud het hulle betaal vir jou handelsware.

23Haran, Kanne en Eden handelaars van Skeba, Assirië en Kilmad het met jou handel gedryf.

24Hulle was jou handelaars in swierige mantels, pers en veelkleurig geweefde sjaals en kleurryke matte. In gevlegte en geknoopte toue het hulle met jou handel gedryf.

25Handelskepe het jou ruilware vir jou vervoer. “ ‘ “Jy het vol geword, was baie swaar belaai daar in die hart van die seë.

26In onstuimige waters het jou roeiers jou gebring. Die oostewind het jou gebreek in die hart van die seë.

27Jou rykdom, jou handelsware, jou ruilware, jou matrose, jou seemanne, hulle wat jou lekplekke kalfater, dié wat jou ruilware verhandel, al die krygsmanne in jou, ja, saam met die hele strydmag in jou midde, hulle sink weg in die hart van die seë op die dag van jou val.

28Van die harde hulpgeroep van jou seemanne bewe die weivelde.

29Hulle verlaat hulle bote – almal wat roeispane vashou; die matrose, al die seevaarders – op die land gaan staan hulle.

30Hulle laat oor jou hulle stem hoor; bitterlik skreeu hulle dit uit; hulle strooi stof op hulle koppe; in die as rol hulle.

31Hulle skeer kaal kolle op hulle koppe oor jou, hulle bind rouklere om, hulle huil oor jou met 'n verbitterde siel – dit is 'n bitter rouplegtigheid.

32Met hulle geweeklaag hef hulle vir jou 'n klaaglied aan; hulle sing 'n klaagsang oor jou, ‘Wie was soos Tirus, wie was soos sy, midde-in die see?’

33Toe jou handelsware uitgegaan het op die seë, het jy baie volke versadig; met die oorvloed van jou rykdom en ruilware het jy konings van die aarde ryk gemaak.

34Nou is jy gebreek deur die seë, in die dieptes van die water. Jou ruilware en jou hele strydmag wat in jou was, het weggesink.

35Al die bewoners van die eilande staan verslae oor jou. Hulle konings sidder onbedaarlik; hulle gesigte is verwronge van angs.

36Handelaars onder die volke fluit oor jou; jy het 'n verskrikking geword; jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Ezekiel 27.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.