Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Exodus 28

:
Afrikaans - AFR20
1 Jy self moet dan jou broer Aäron en sy seuns saam met hom uit die geledere van die Israeliete na jou laat nader kom, sodat hy as priester vir My kan optree. Dit is Aäron, en ook Nadab en Abihu, Eleasar en Itamar, die seuns van Aäron.
2 Jy moet heilige klere vir jou broer Aäron maak, ter wille van waardigheid en as versiering.
3 Dan moet jy self ook praat met almal wat vaardig is, vir wie Ek met 'n wyse gees vervul het, sodat hulle Aäron se klere kan maak vir sy wyding om vir My as priester op te tree.
4 Dit is die klere wat hulle moet maak: 'n borstas, 'n efod, 'n mantel, 'n omsoomde priesterrok, 'n tulband en 'n lyfserp. Hulle moet heilige klere maak vir Aäron, jou broer, en ook vir sy seuns, sodat hulle vir My as priesters kan optree.
5 Daardie manne moet daarvoor gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyngeweefde linne ontvang.
6 Hulle moet dan die efod maak van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne met die kundigheid van 'n vakman.
7 Dit moet twee skouerbande hê, vasgeheg aan die twee hoeke. Dit moet vasgewerk wees.
8 'n Versierde gordel wat daaroor kom, moet deel daarvan wees, en op dieselfde manier as die efod gemaak word van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne.
9 Jy moet twee •oniksstene neem en die name van die seuns van Israel daarop graveer:
10 ses van die name op die een steen, en die name van die oorblywende ses op die tweede steen, in die volgorde van hulle geboorte.
11 Met die vakmanskap van 'n bewerker van edelstene moet jy, soos wanneer op 'n seëlring gegraveer word, die twee stene met die name van die seuns van Israel graveer. Jy moet dit dan vassit, omring met monterings van gouddraad.
12 Sit die twee stene vas op die skouerbande van die efod as stene ter herinnering aan die seuns van Israel. Aäron moet hulle name voor die Here op sy skouers dra as 'n herinnering.
13 Jy moet die monterings van gouddraad maak,
14 en ook twee kettinkies van suiwer goud. Gevleg, op dieselfde wyse as touwerk, moet jy hulle maak, en dan die touvormige kettinkies aan die monterings heg.
15 Dan moet jy 'n borstas vir beslissing maak met die kundigheid van 'n vakman. Soos in die geval van die efod, moet jy dit van gouddraad, pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne maak.
16 Dit moet vierkantig gevou word, 'n span lank en 'n span breed.
17 Jy moet daarop 'n montering met vier rye edelstene vassit: 'n •karneool, 'n •topaas en 'n smarag in die eerste ry;
18 in die tweede ry 'n •malagiet, 'n •lasuursteen en 'n •akwamaryn;
19 in die derde ry 'n •hiasint, 'n •agaat en 'n •ametis;
20 en in die vierde ry 'n •chrisoliet, 'n •oniks en 'n •jaspis. Hulle moet met gouddraad versier word in hulle monterings.
21 Die stene moet gerangskik wees volgens die name van die seuns van Israel twaalf, in ooreenstemming met hulle name. Met gravering soos op 'n seëlring moet elke steen sy naam kry, in ooreenstemming met die twaalf stamme.
22 Jy moet aan die borstas kettinkies maak met suiwer goud, gevleg op dieselfde wyse as touwerk.
23 Jy moet twee goue ringe aan die borstas aanbring. Sit die twee ringe vas aan die twee hoeke van die borstas.
24 Jy moet die twee goue koorde aan die twee ringe op die hoeke van die borstas vasheg,
25 en die twee ander punte van die twee koorde moet jy aan die twee monterings vasheg en dit dan aan die voorkant van die skouerbande van die efod heg.
26 Jy moet twee goue ringe maak en dit aan die twee ander hoeke van die borstas vassit, aan die binnerand, teen die efod.
27 Jy moet nog twee goue ringe maak en hulle vasheg aan die onderkant van die twee skouerbande van die efod, aan die voorkant naby die hegpunt van die skouerbande, bo die band van die efod.
28 Die borstas moet met sy ringe aan die efod se ringe vasgemaak word, met 'n draad pers wol, sodat dit aan die band van die efod kan bly en die borstas nie van die efod af wegskuif nie.
29 So moet Aäron die name van die seuns van Israel bo sy hart op die borstas vir beslissing dra, as 'n durende herinnering voor die Here, wanneer hy die heiligdom binnegaan.
30 “Jy moet in die borstas vir beslissing die Urim en Tummim plaas dit moet bo Aäron se hart wees wanneer hy daar voor die Here ingaan. Aäron moet die middele vir beslissing vir die Israeliete altyd bo sy hart dra voor die Here.
31 Jy moet die hele mantel van die efod van pers wol maak.
32 Die opening vir die kop moet in die middel daarvan wees. 'n Soom moet rondom die opening aangebring word met die kundigheid van 'n wewer. Dit moet soos die opening in 'n gevegsmondering wees, sodat dit nie kan skeur nie.
33 Op die soomnate van die mantel moet jy granate borduur met pers, purperrooi en karmosynrooi wol op al die soomnate reg rondom en met goue klokkies tussenin:
34 'n goue klokkie en 'n granaat, 'n goue klokkie en 'n granaat, reg rondom op die soomnate van die mantel.
35 Aäron moet dit aanhê om dienswerk te kan doen. Die geluid van die klokkies moet gehoor word wanneer hy die heiligdom binnegaan, voor die Here, en wanneer hy uitgaan, sodat hy nie sterf nie.
36 “Jy moet 'n roset van suiwer goud maak en daarop graveer, soos wanneer 'n seëlring gegraveer word, ‘Heilig vir die Here.
37 Jy moet dit aan 'n draad pers wol vasbind, sodat dit op die tulband kan wees. Dit moet aan die voorkant van die tulband wees.
38 Dit moet op Aäron se voorkop wees, sodat Aäron enige skuld in verband met die •heilige gawes wat die Israeliete aan die Here wy, kan wegneem. Dit geld vir al hulle heilige geskenke. Die roset moet voortdurend op sy voorkop wees, sodat hulle voor die Here aanvaarbaar sal wees.
39 Weef die priesterrok in ruitpatroon met fyn linne. Dan moet jy 'n tulband van fyn linne maak. 'n Lyfserp moet jy ook maak met die kundigheid van 'n borduurder.
40 Vir Aäron se seuns moet jy priesterrokke maak. Jy moet ook vir hulle lyfserpe en kopdoeke maak. Jy moet dit vir hulle maak ter wille van waardigheid en as versiering.
41 Jy moet hulle aantrek, Aäron, jou broer, en sy seuns saam met hom. Dan moet jy hulle salf, hulle wy en hulle heilig, sodat hulle vir My as priesters kan optree.
42 Jy moet vir hulle linnebroeke maak om hulle geslagsdele te bedek. Dit moet van die heupe tot die dye strek.
43 Aäron en sy seuns moet dit aanhê wanneer hulle die Tent van Ontmoeting binnegaan, of wanneer hulle nader kom na die altaar om dienswerk te doen in die heiligdom, sodat hulle nie skuld op hulle laai en sterf nie. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hom en vir sy nageslag hom.”