Exodus 27
1 “Jy moet 'n altaar van doringhout maak, vyf el lank en vyf el breed; die altaar moet vierkantig wees en drie el hoog.
2 Jy moet daarvoor horings maak op elk van die vier hoeke. Die horings moet deel daarvan wees, en jy moet die altaar met brons oortrek.
3 Jy moet houers daarvoor maak om die vetterige as mee te verwyder, asook skoppies, offerbakke, vurke en vuurpanne. Al die altaar se toebehore moet jy van brons maak.
4 Jy moet 'n traliewerk daarvoor maak, 'n maaswerk van brons. Maak dan vier bronsringe op die hoeke van die maaswerk.
5 Dan moet jy dit onder die rand van die altaar vassit, aan die onderkant, sodat die maaswerk tot by die helfte van die altaar strek.
6 Jy moet ook draaghoute vir die altaar maak, draaghoute van doringhout, en dit met brons oortrek.
7 Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word, sodat daar draaghoute aan al twee kante van die altaar is wanneer dit gedra word.
8 Jy moet die altaar van planke maak, hol aan die binnekant. Soos Hy jou op die berg gewys het, presies so moet hulle dit maak.”
9 “Jy moet 'n binneplein vir die •tabernakel maak. Aan die suidekant moet die behangsels vir die binneplein van fyn dubbeldraadlinne wees, 'n honderd el lank vir die een kant.
10 Dit moet twintig staanders met hulle twintig bronsvoetstukke hê, maar die hakies van die staanders en hulle hegplekke moet van silwer wees.
11 Net so moet daar aan die noordekant behangsels oor 'n lengte van honderd el wees, met twintig staanders en bronsvoetstukke, en die hakies van die staanders en hulle hegplekke moet van silwer wees.
12 Oor die breedte van die binneplein aan die westekant moet daar vyftig el behangsels wees, met hulle tien staanders en tien voetstukke.
13 Die breedte van die binneplein aan die voorkant, die oostekant, moet vyftig el wees.
14 Die behangsels langs die ingang moet vyftien el wees, met drie staanders en drie voetstukke.
15 Aan die ander kant moet die behangsels vyftien el wees, met drie staanders en drie voetstukke.
16 By die ingang van die binneplein moet daar 'n gordyn van twintig el wees, gemaak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne – met die kundigheid van 'n borduurder – met vier staanders en vier voetstukke.
17 “Al die staanders rondom die binneplein moet van silwerhegplekke voorsien word; hulle hakies moet van silwer en hulle voetstukke van brons wees.
18 Die lengte van die binneplein moet honderd el wees, die breedte regdeur vyftig el, en die hoogte vyf el, die behangsels gemaak van fyn dubbeldraadlinne, en met bronsvoetstukke.
19 “Wat al die toebehore van die tabernakel betref: Alles vir die dienswerk in die tabernakel, asook al die tentpenne van die tabernakel en die tentpenne van die binneplein, moet van brons wees.”
20 “ Jy self moet die Israeliete beveel dat hulle vir jou suiwer geparste olyfolie bring vir lig, sodat die lampe voortdurend kan brand.
21 In die Tent van Ontmoeting, buite die voorhangsel wat voor die Getuienis hang, moet Aäron en sy seuns die kandelaar gereedmaak om van die aand tot die oggend te brand voor die Here. Dit is 'n vaste verpligting wat van die kant van die Israeliete op die nageslag van Aäron en sy seuns rus. ”