Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Exodus 10

:
Afrikaans - AFR20
1 Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die farao, want dit is Ek wat sy hart en die harte van sy amptenare verhard het, sodat Ek hierdie tekens van My in hulle midde kon laat gebeur,
2 en sodat jy ten aanhore van jou kinders en kleinkinders kan vertel hoe Ek die Egiptenare vir die gek gehou het, en van my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, en sodat julle kan weet dat Ek die Here is.”
3 Moses en Aäron het toe na die farao gegaan en vir hom gesê: “So die Here, die God van die Hebreërs, ‘Hoe lank nog gaan jy weier om jou aan My te onderwerp? Laat my volk gaan, sodat hulle My kan dien.
4 Want as jy aanhou weier om my volk te laat gaan kyk, Ek gaan môre treksprinkane oor jou grondgebied bring.
5 En hulle sal die oppervlakte van die land bedek, sodat 'n mens nie die grond sal kan sien nie. Hulle sal die min wat oor is, wat vir julle die hael oorgebly het, verslind; en hulle sal elke boom in die veld wat weer vir julle uitloop, kaal vreet.
6 Hulle sal jou huise, die huise van al jou amptenare en die huise van al die Egiptenare vul soos jou ouers en grootouers nie gesien het nie, van die dag dat hulle op aarde gekom het tot vandag toe.’ Daarna het Moses omgedraai en van die farao af weggegaan.
7 Die farao se amptenare toe vir hom: “Hoe lank gaan hierdie man nog vir ons 'n valstrik wees? Laat die manne gaan, sodat hulle die Here hulle God kan gaan dien. Besef u nie dat Egipte ten gronde gaan nie?”
8 Moses en Aäron is toe teruggebring na die farao. Hy het vir hulle gesê: “Gaan dien die Here julle God. Maar wie gaan almal?”
9 Moses het geantwoord: “Met ons jongmense en ons bejaardes moet ons gaan; met ons seuns en dogters, met ons kleinvee en grootvee moet ons gaan, want vir ons is dit 'n fees van die Here.
10 Die farao toe vir hulle: “Net so min as wat die Here met julle sal wees, so min sal ek julle en julle afhanklikes laat gaan! Kyk, wat julle beoog, is verkeerd.
11 Dit sal nie so wees nie! Gaan julle manne maar, en dien die Here, want dit is mos wat julle versoek.” Hulle is toe uit die farao se teenwoordigheid weggejaag.
12 Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit oor Egipteland vir die sprinkane, sodat hulle opkom oor Egipteland en alle plante op die grond verslind wat die hael laat oorbly het.”
13 Moses het toe sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die Here het 'n oostewind daardie hele dag en die hele nag oor die land laat waai. Toe dit môre word, het die oostewind die treksprinkane gebring.
14 Die treksprinkane het oor die hele Egipteland gekom en in elke streek van Egipte neergestryk. Daar was geweldig baie. Voorheen was daar nog nie 'n sprinkaanswerm soos dié een nie, en daarna sou daar nie weer so iets wees nie.
15 Hulle het die oppervlakte van die land bedek, sodat die land donker geword het. Hulle het alle plante op die grond verslind, en ook al die vrugte aan die bome wat die hael vrygespring het. Daar het in die hele Egipteland nie enige groenigheid aan die bome en die plante van die veld oorgebly nie.
16 Die farao het hom gehaas om Moses en Aäron te ontbied en gesê: “Ek het teen die Here, julle God, en teen julle gesondig.
17 Vergewe nou asseblief net hierdie keer my sonde. Pleit by die Here, julle God, dat Hy tog net hierdie dood van my af moet wegneem.”
18 Moses het van die farao af weggegaan en by die Here gepleit.
19 Die Here het toe die wind in 'n baie sterk westewind verander. Dit het die treksprinkane meegevoer en in die Rietsee ingedryf. Daar het nie 'n enkele sprinkaan in enige streek van Egipte oorgebly nie.
20 Maar die Here het die hart van die farao verhard, en hy het nie die Israeliete laat gaan nie.
21 Die Here het vir Moses gesê: “Strek jou hand uit na die hemel, sodat daar 'n duisternis oor Egipteland kom, 'n tasbare duisternis.”
22 Moses het sy hand na die hemel uitgestrek, en drie dae lank was daar 'n diepe duisternis oor die hele Egipteland.
23 Die mense kon mekaar nie sien nie, en drie dae lank het niemand van sy plek af opgestaan nie. Vir al die Israeliete was dit egter lig in hulle woonplekke.
24 Die farao het Moses ontbied en gesê: “Gaan dien julle die Here! Net julle kleinvee en grootvee moet agtergelaat word. Julle afhanklikes kan ook saam met julle gaan.”
25 Maar Moses het geantwoord: “U moet dan ook vir ons slagoffers en •brandoffers saamgee, sodat ons vir die Here ons God kan offer.
26 Ons vee moet ook saam met ons gaan. Geen kloutjie mag agterbly nie, want ons moet van die vee neem om die Here ons God mee te dien. Totdat ons daar aangekom het, weet ons egter self nie waarmee ons die Here ons God moet dien nie.”
27 Maar die Here het die farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat gaan nie.
28 Toe die farao vir hom: “Gaan weg van my af! Pasop, jy mag my gesig nie weer sien nie, want die dag wat jy my gesig sien, sterf jy.”
29 Moses het geantwoord: “Dit is soos u sê. Ek sal u gesig nie weer sien nie.