Amos 6
1 Wee dié wat gerus is in Sion, dié wat hulle veilig voel op die berg Samaria, die hooggeplaastes van die mees vooraanstaande nasies, na wie die huis van Israel kom.
2 Gaan oor die grens na Kalne en kyk; loop van daar na Hamat-Rabba, en gaan af na Gat van die Filistyne. Is julle beter as hierdie koninkryke, of is hulle grondgebied groter as julle s'n,
3 julle wat die dag van onheil as ver beskou, maar die gewelddadige einde nader bring?
4 Hulle lê op beddens met ivoorinleg, luier rond op hulle sofas, eet lammers uit die trop kleinvee en kalwers uit die stal.
5 Hulle neurie met begeleiding van die harp; soos Dawid, improviseer hulle op musiekinstrumente.
6 Hulle drink offerbakke vol wyn; met die beste olies salf hulle hulleself; maar hulle treur nie oor die ondergang van Josef nie.
7 Daarom sal hulle nou in ballingskap gaan aan die voorpunt van die ballinge; die gefuif van dié wat rondluier, kom tot 'n einde.
8 My Heer, die Here, het by Homself gesweer; die uitspraak van die Here, die God van alle magte, is: “Ek verafsku die hoogmoed van Jakob, en sy vestings haat Ek. Ek gaan die stad en alles daarin oorlewer.”
9 As daar tien mense in 'n enkele huis oor is, sal hulle sterf.
10 En wanneer 'n familielid, die een wat die lyk moet versorg, dit optel om dit uit die huis te neem en vir iemand wat agter in die huis is, vra: “Is daar nog by jou?” en hy antwoord: “Dis klaar!” sal hy sê: “Bly net stil! Want die Naam van die Here moet nie genoem word nie.”
11 Want kyk, die Here gee opdrag, en Hy slaan die groot huis aan stukke en die klein huis tot splinters.
12 Hardloop perde op 'n rotswand of ploeg 'n mens dit met osse? En tog het julle die reg in 'n giftige plant verander en die vrug van geregtigheid in wildeals.
13 Julle is bly oor Lo-Dabar. Julle sê: “Het ons nie met eie krag Karnajim vir ons verower nie?”
14 “Maar kyk, Ek laat teen julle, huis van Israel, 'n nasie optrek,” is die uitspraak van die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, “en hulle sal julle onderdruk van Lebo-Hamat tot by die droë loop van die Araba. ”