Amos 5AFR20

1Luister na hierdie woord, huis van Israel, wat ek as 'n treurlied oor julle aanhef:

2“Sy het geval, die jongvrou Israel sal nie weer opstaan nie. Verlate lê sy op haar grond met niemand wat haar ophelp nie.”

3Ja, so sê my Heer, die Here: “Die stad wat uittrek met duisend, hou honderd oor; en die een wat uittrek met honderd, hou tien oor vir die huis van Israel.”

4Ja, so sê die Here vir die huis van Israel: “Soek My, dan sal julle leef.

5Moet Bet-El nie besoek nie; na Gilgal mag julle nie gaan nie en na Berseba die grens nie oorsteek nie. Want Gilgal sal beslis in ballingskap gaan en Bet-El sal 'n nietigheid word.”

6Soek die Here, dan sal julle leef – anders vlam Hy op soos 'n vuur in die huis van Josef; die vuur sal verteer en daar is niemand wat dit vir Bet-El kan blus nie –

7julle wat die reg verander in wildeals, en geregtigheid teen die grond gooi.

8Hy wat die Sewester en Orion maak, wat stikdonker verander in môre en dag in nag laat verdonker; wat die water van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde – Here is sy Naam.

9Dit is Hy wat verwoesting laat losbars oor 'n vesting, ja, verwoesting kom oor 'n versterkte stad.

10Hulle haat die een wat in die stadspoort teregwys en verafsku hom wat reguit praat.

11Daarom, omdat julle graanbelasting van armes eis, en 'n heffing op graan van hulle neem, het julle huise van gekapte klip gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; het julle pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie.

12Ek weet immers hoe baie julle oortredings en hoe talryk julle sondes is, julle wat vyandig is teenoor regverdiges, wat omkoopgeld vat en behoeftiges in die stadspoort wegwys.

13Daarom is die verstandige in hierdie tyd stil, want dit is 'n bose tyd.

14Soek die goeie, nie die slegte nie, sodat julle kan lewe; dan sal die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, só by julle wees soos wat julle sê.

15Haat die slegte, wees lief vir die goeie, en vestig die reg in die stadspoort. Miskien sal die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, dié wat oor is van Josef, genadig wees.

16Daarom, so sê die Here, die God van alle magte, my Heer: “Op al die dorpspleine klink die rouklag op. In al die strate roep hulle, ‘O wee! O wee!’ Hulle roep plaaswerkers om deel te neem aan die rouplegtigheid en die rouklag, saam met die kenners van treursang.

17In al die wingerde klink die rouklag op, want Ek trek deur jou midde.” Dit het die Here gesê.

18Wee dié wat uitsien na die dag van die Here. Wat hou dit vir julle in? Die dag van die Here is duisternis, nie lig nie,

19soos wanneer iemand vlug vir 'n leeu, maar 'n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik 'n slang hom.

20Die dag van die Here, is dit nie duisternis, en nie lig nie, donker met geen ligglans nie?

21“ Ek haat, Ek verwerp julle feeste; Ek wil julle feesvierings nie ruik nie.

22Ja, selfs al lê julle vir My •brandoffers en julle •graanoffers op die altaar, Ek aanvaar dit nie; 'n •maaltydoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie raak nie.

23Hou die lawaai van julle liedere weg van My; die klank van julle harpe wil Ek nie hoor nie.

24Laat die reg voortrol soos water en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom.

25Het julle slagoffers en graanoffers vir My gebring, die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel?

26Julle sal Sakkoet, julle koning, en Kajjawan, julle beelde, die ster van julle gode wat julle vir julle gemaak het, moet dra.

27Ek gaan julle tot anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer,” het die Here gesê. God wat Heerser is oor alle magte, is sy Naam.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-ver

Choose Translation

Switch translation for Amos 5.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.