Zephaniah 2
1 Israeliete, julle is nie skaam oor alles wat julle gedoen het nie. Julle moet julle lewe verander
2 voordat die dag van die Here kom. Op die dag van die Here sal julle brand soos kaf in vuur brand. Julle moet verander voordat die Here julle straf, want Hy is baie kwaad.
3 Almal in die land wat nederig is, moet vra wat die Here wil hê en hulle moet dit doen. Julle moet aanhou om reg te doen en nederig te wees. Miskien sal die Here julle nie straf wanneer Hy kom nie.
4 Daar sal nie meer mense wees in die stad Gasa nie, en die vyande sal alles afbreek in die stad Askelon. Al die mense in die stad Asdod sal op een dag sterf, en die vyande sal die stad Ekron afbreek en verwoes.
5 Ja, Filistyne, dit sal sleg gaan met julle wat naby die see woon, julle wat van die eiland Kreta kom. Mense van Kanaän, Filistyne-land, die Here sê Hy sal julle straf. Daar sal nie meer mense in julle land lewe nie.
6 Julle woon nou hier naby die see, maar skaapwagters sal hulle skape hier laat wei, hulle sal hier krale maak vir hulle skape en bokke.
7 Die mense van Juda wat nog lewe, sal die skape en bokke wees. Hulle sal wei in die Filistyne se land, hulle sal in die aande gaan slaap in die huise van die stad Askelon. Hulle God die Here sal hulle Herder wees, Hy sal hulle seën, sodat dit goed sal gaan met hulle.
8 Die Here sê: “Ek het gehoor hoe sleg praat die Moabiete en die Ammoniete oor my volk. Hulle het gemaak of my volk niks beteken nie en hulle dink hulle is self baie belangrik.”
9 Die Here wat oor alles regeer, die God van die Israeliete, sê: “So seker soos Ek lewe, die Moabiete en die Ammoniete sal word soos Sodom en Gomorra. Daar waar hulle nou woon, sal net doringbossies groei, dit sal wees soos wanneer daar baie sout in die grond is. Daar sal nooit weer iemand woon nie. Die mense van my volk wat nog lewe, sal die Moabiete en die Ammoniete se goed vat en in hulle land gaan woon.”
10 Dit sal gebeur omdat die Moabiete en die Ammoniete hoogmoedig was. Hulle het gedink hulle is baie belangrik en hulle het gedink die Here se volk beteken niks, die volk van die Here wat oor alles regeer.
11 Die Moabiete en die Ammoniete sal baie bang word vir die Here, want Hy sal al die gode van die aarde laat sterf. Hulle sal nie kos hê om te eet nie. Al die volke naby die see en op die eilande sal voor die Here buig, elkeen in sy eie land.
12 Die Here sal ook teen die Kussiete oorlog maak, en hulle sal sterf.
13 Dan sal Hy sy hand uitsteek na die noorde en Hy sal die Assiriërs laat sterf. Waar die stad Nineve nou is, sal daar 'n droë woestyn wees waar diere wei. Daar sal nie mense woon nie.
14 Baie soorte diere sal daar lê en rus. Pelikane en uile sal op die stad se pilare slaap. Die wind sal deur die vensters waai. By die deure sal bakstene lê wat van bo afgeval het, want die vyande sal al die sederhout van die huise afhaal en wegvat.
15 Nineve was 'n stad vol vrolike mense wat oor niks bekommerd was nie. Hulle het gedink hulle stad is die beste en die sterkste. Maar die vyande sal die stad verwoes. Dit sal 'n plek wees waar net diere lê. Almal wat daar verbygaan, sal die stad Nineve spot. Hulle sal na die hope klippe wys en lag.