Song of Solomon 1ABA

1Die mooiste lied. Van Salomo.

2Sy sê: “Hy moet my soen, hy moet aanhou om my te soen! Ja, jy is lief vir my, en dit is lekkerder as wyn.

3Jy ruik so lekker soos goeie olyf-olie, wanneer ek jou naam hoor, dan is dit soos lekkerruik-olie. Dit is hoekom meisies verlief is op jou.

4Jy moet my saam met jou neem, ons moet hardloop! Die koning het my na sy kamer gebring. Ons moet juig, ons moet vir almal wys dat ons bly is, ons moet sing daaroor dat jy lief is vir my, dit is lekkerder as wyn.”

5Sy sê: “Meisies van Jerusalem, ek is bruin gebrand, maar ek is mooi, so mooi soos die tente in die land Kedar, soos die tente van Salomo.

6Julle kyk na my omdat ek bruin gebrand is, omdat die son my so gebrand het. Julle moenie so na my kyk nie. My broers was kwaad vir my, hulle het gesê ek moet die wingerde oppas, en daarom kon ek nie my vel mooi hou nie.”

7Sy sê: “Ek is lief vir jou, jy moet vir my vertel waar jy jou skape en bokke laat wei, waar jy hulle laat rus op die warmste tyd van die dag. Ek wil nie my gesig toemaak en jou soek by jou vriende se troppe skape en bokke nie.”

8Hy sê: “Jy, mooiste van al die vroue, as jy dit nie kan uitvind nie, dan moet jy loop op die spore van die skape en die bokke, en jy moet jou bokkies laat wei by die skaapwagters se tente.”

9Hy sê: “My liefste, jy is vir my mooi, so mooi soos 'n perd voor die farao se oorlogkar.

10Jy dra oorbelle langs jou wange en kettinkies om jou nek.

11Ons sal vir jou oorbelle maak van goud met silwer knoppe daarin.”

12Sy sê: “Terwyl die koning naby was, het hy my nardus geruik.

13Die man vir wie ek lief is, is vir my soos 'n sakkie mirre tussen my borste.

14Die man vir wie ek lief is, is vir my soos 'n henna-tros in die wingerd van die stad En-Gedi.”

15Hy sê: “My liefste, jy is regtig mooi, regtig, jy is mooi, jou oë is soos duiwe.”

16Sy sê: “Man vir wie ek lief is, jy is regtig mooi, jy is ook pragtig, en ons bed is ook mooi, ons bed is onder die groen blare.

17Ons huis se balke is die sederbome, die planke in ons dak is die sipresbome.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Song of Solomon 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.