Psalms 55ABA

1Vir die leier van die koor: Met snaarmusiek. 'n Lied van Dawid.

2O God, U moet luister na my gebed, U moenie maak of U nie hoor dat ek soebat nie.

3U moet luister en my antwoord. Ek is baie bekommerd, ek is bang

4wanneer ek hoor wat my vyande sê, wanneer die mense wat verkeerd doen, my wil laat swaarkry. Want hulle beskuldig my vals, hulle is kwaad en hulle haat my.

5My hart klop baie vinnig, ek is bang dat ek sal sterf.

6Ek het bang geword, baie bang, my hele liggaam bewe.

7Ek het gewens dat ek vlerke kan kry soos 'n duif, dan sal ek wegvlieg en op 'n ander plek gaan woon.

8Ja, ek sal ver wegvlug en in die woestyn gaan bly. Sela

9Ek sal gou gaan kyk waar ek kan wegkruip vir die stormwind, die wind wat my wil wegwaai.

10Here, U moet my vyande deurmekaar maak, die een moenie weet wat die ander een sê nie. Want ek sien daar is mense in die stad wat altyd wil slaan en baklei.

11Hulle hou aan, elke dag en nag, hulle loop op die muur om die stad, hulle doen slegte dinge aan die mense in die stad, hulle laat die mense swaarkry.

12Alles in die stad is sleg. Hulle verdruk die mense en lieg vir hulle op die oop stuk grond by die poort.

13Maar dit is nie my vyande wat my vals beskuldig nie. As dit my vyande was, dan sou ek dit verstaan het. Dit is nie die mense wat my altyd gehaat het en wat nou dink hulle is belangriker as ek nie. As dit húlle was, dan sou ek vir hulle weggekruip het.

14Maar dit is jy, 'n man soos ek, jy wat altyd my vriend en my maat was.

15Dit was altyd lekker om met jou te gesels toe ons tussen al die mense by die tempel rondgeloop het.

16Ek bid dat my vyande skielik moet sterf, hulle moet nog lewe wanneer hulle afgaan na die doderyk. Hoekom? Want daar is net slegte dinge in hulle huise en hulle harte.

17Ekself sal roep en vra dat God my moet help, en ek weet dat die Here my sal red.

18Ek kla en sug die hele dag lank, in die aand, in die oggend, in die middag, en die Here hoor wat ek vra.

19Hy red my en Hy gee vir my vrede ná die oorlog, ook wanneer daar baie vyande teen my is.

20God sal hoor en Hy sal hulle verneder, Hy wat Koning is van die begin af. Sela Hy sal dit doen, want my vyande wil nie verander nie, hulle wil nie gehoorsaam wees aan God en Hom dien nie.

21Die man wat my maat was, het slegte dinge gedoen teen my, teen my wat sy vriend was, hy het sy ooreenkoms met my gebreek.

22Hy het mooi dinge gesê, sy tong was so glad soos botter, maar daar was oorlog in sy hart. Sy woorde was sagter as olyf-olie, maar hulle was soos swaarde wat wil seermaak.

23Jy moet vir die Here vra om jou probleme te dra, Hy sal jou help. Hy sal 'n mens wat reg lewe, nie laat val en laat bly lê nie.

24O God, U sal my vyande laat sterf, hulle sal moet afgaan na die diepste plek in die doderyk. Hulle wat ander mense vermoor en bedrieg, hulle sal sterf voordat die helfte van hulle lewe verby is. Ek weet dat U sal doen wat U belowe het.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Psalms 55.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.