1Vir die leier van die koor: 'n Lied. Van die Korag-groep.
2Ek verlang na U, o God, soos 'n wildsbok verlang na strome water.
3Ek is dors vir God, vir die God wat lewe. Wanneer kan ek Hom weer in sy tempel gaan dien?
4My trane is my kos, ek huil elke dag en nag wanneer mense aanhou om vir my te vra: “Waar is jou God?”
5Dan onthou ek en ek hou aan om te dink hoe ek tussen baie mense geloop het en hulle gelei het na die tempel. Ons was baie mense en ons het feesgevier, ons het hard gesing en vir God dankie gesê.
6Ek moenie so treurig en ontsteld wees nie, ek moet glo dat God my sal help, ja, ek sal weer 'n lied sing om Hom te prys. Hy is naby, Hy sal my red,
7Hy is my God. Wanneer ek so treurig is, dan dink ek aan U hier waar ek is in die land by die Jordaan-rivier en by die Hermon-berge, hier by die Klein-berg.
8Wanneer U die watervalle laat raas, dan is dit soos wanneer die diep waters vir mekaar skree, en U al die branders en die groot golwe oor my laat spoel.
9As die Here elke dag vir my doen wat Hy belowe het, dan sal ek elke nag 'n lied vir Hom sing, ek sal bid tot die God wat my laat aanhou lewe.
10Ek sal vir God sê: My Rots, hoekom het U my vergeet? Hoekom moet ek aanhou rou omdat vyande my laat swaarkry?
11Dit voel of iemand my doodsteek wanneer my vyande my spot en aanhou sê: “Waar is jou God?”
12Ek moenie so treurig en ontsteld wees nie, ek moet glo dat God my sal help, ja, ek sal weer 'n lied sing om Hom te prys. Hy is naby, Hy sal my red, Hy is my God.