1Vir die leier van die koor: 'n Psalm van Dawid.
2Die hemel sê God is koning, die hemeldak vertel wat Hy gedoen het.
3Die een dag sê dit vir die volgende dag, die een nag sê vir die volgende nag wat gebeur het.
4Niemand hoor dat die hemel praat nie, hy praat nie 'n taal en woorde nie.
5Maar oral weet die mense wat die hemel sê, mense van die hele wêreld verstaan hierdie taal. God het vir die son 'n plek gegee in die lug,
6en wanneer die son opkom en soos 'n soldaat vrolik op sy pad begin loop, dan is hy soos 'n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
7Die son kom ver in die ooste op en gaan ver in die weste onder, en niemand kan wegkruip vir hom nie, hy laat almal warm kry.
8Wat die Here wil hê 'n mens moet doen, is beter as alles, dit laat 'n mens lewe. Wat die Here sê, kan 'n mens glo, dit gee wysheid vir jongmense.
9Wat die Here beveel, is reg, dit maak 'n mens bly. Wat die Here sê 'n mens moet doen, is regverdig, dit laat 'n mens weet hoe hy moet lewe.
10Die gebooie van die Here is reg, dit sal altyd waar wees. Wat die Here besluit, is soos dit moet wees, dit is altyd regverdig.
11Alles wat die Here sê, is beter as goud, beter as baie goud, dit is soeter as heuning, soeter as vars heuning.
12En ook, dit leer vir my wat ek moet weet, en wanneer ek doen wat die Here sê, dan gee Hy vir my baie goeie dinge.
13Niemand weet self wat hy alles verkeerd doen nie. Here, U moet my vergewe wanneer ek verkeerde dinge doen en nie weet dat dit verkeerd is nie.
14En U moet ook keer dat ek nie sonde doen wanneer ek weet dit is verkeerd nie, U moenie dat die sondes oor my regeer nie. Dan sal ek nie skuldig wees nie en nie teen U opstandig wees nie.
15Here, U is my Rots wat my vrymaak, Ek bid dat U tevrede sal wees met wat ek sê en wat ek dink.